Elke hart het ‘n letsel of ‘n rolstoel

In die verte hoor ek die vrolike gelag van kinders wat speel. Met die eerste oogopslag sien ek ’n dogtertjie en ’n seuntjie wat lag, speel en hardloop oor die gras. Haar rokspante en blonde hare wapper in die wind. Ouma waarsku: “Moet net nie op die gras rol nie, julle gaan juk.” En ken ons nie almal daardie jeuk wat net met ’n bad vol water en seep weggewas kan word nie?

Dit is vroegoggend, en die prentjie van sorgvrye speletjies laat my dadelik glimlag. Maar terwyl ek verbyloop, merk ek iets op: die dogtertjie se blonde haartjies bedek net die agterkant van haar koppie. Haar gesiggie en ’n groot deel van haar kop dra die letsels van ’n erge brandwond. My glimlag bly, maar my oë skiet vol trane. So ’n klein lyfie – seker maar vier of vyf jaar oud – wat reeds so jonk met die pyn van die lewe kennis moes maak en nou lewenslank die tekens daarvan dra.

Tog bly sy lag. Vir haar en haar boetie, daar onder die koel bome op die gras, bestaan net hierdie oomblik: lag en speel, ongeag die letsels wat sy dra.

Dit het my laat dink aan iets wat Katherine Wolf gesê het (gaan luister gerus na haar inspirerende storie by hopeheals.com of lees haar boek, Suffer Strong: How to Survive Anything by Redefining Everything):

“Some of us have physical wheelchairs, but we all have invisible wheelchairs inside of us.”

Haar punt is eenvoudig: al sit sy self in ’n rolstoel, is daar baie mense wat fisies normaal lyk, maar steeds gebroke is. Ons almal dra letsels – sommige sigbaar, ander onsigbaar.

Die dogtertjie se seer lê oop en bloot vir die wêreld om te sien. Maar daar is ander letsels – die pyn van verwerping, die seer van maats wat spot – wat nie sigbaar is nie en dalk selfs dieper sny as die wonde wat die oog kan sien. Net omdat sommige letsels nie sigbaar is nie, beteken dit nie dat hulle minder werklik of pynlik is nie.

Ons almal het letsels – fisies en emosioneel. Wanneer ons in die spieël kyk en dié merke sien wat niemand anders raaksien nie, moet ons sag wees met onsself. Maar ons moet onsself ook die kans gun om voluit te leef – om, ten spyte van ons letsels, weer sorgeloos oor die gras te hardloop en te lag.

Net so moet ons, wanneer ons ander sien wat sorgvry speel, nie outomaties aanvaar dat hulle lewe perfek en sonder pyn is nie. Ons leef in ’n wêreld wat ons maklik oortuig dat ander mense se lewens beter is, dat die gras altyd groener aan die ander kant is. Maar net omdat jy nie iemand se seer sien nie, beteken dit nie dat dit nie daar is nie.

Ons moet ook onthou dat mense dikwels vanuit hulle seer reageer. Wat soos ’n persoonlike aanval voel, is soms net iemand wat, soos ’n gewonde dier, aggressief voorkom om hulself te beskerm.

Maar die belangrikste van alles is hierdie waarheid:

Jesus is God met littekens.

Hy dra die fisiese wonde van spykers, die littekens van verwerping en boelies, die merke van die kruis. Hy ken ons letsels – sigbaar én onsigbaar. Hy weet hoe pyn voel. En Hy nooi ons om met ons eie littekens na Hom te kom sodat Hy ons weer kan leer om op te staan, aan te gaan… en selfs, al is dit in ’n rolstoel, weer onder die bome op die gras te speel.


Lees soortgelyk

Hoekom kan mens nie sop met ‘n vurk eet nie?

Ons verwag dikwels van ander om behoeftes te vervul waarvoor hulle nie toegerus is nie. Maar wat as hulle ‘n vurk is – en…

DeurDJ MullerJan 22, 2026

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025