Powered by RedCircle
Hulle maak 08:00 oop, en toe ek 08:01 die veearts bel, het die ontvangsdame vinnig opgetel. Té vinnig. Ek moes vir ons oudste hondjie ‘n afspraak maak. Sy is 15 en dit lyk of dié blinde steekbaardjie nou demensie ook het. “Nadia sal haar dan 11:30 bring, baie dankie,” sê ek en druk dood. Ek het geweet wat ek gedoen het. Maar ek moes. Reeds vir ‘n week voor dié oproep ontken ek ten sterkste wat ek wéét gaan gebeur. “Nina kom nie weer huis toe nie, my skat,” laat weet Nadia my rondom 12:00. Ek was reg. En ek was kwaad omdat ek reg was.
“Hoe sê ons dit vir die kinders?” wonder ek. “Natuurlike oorsake? Sy het weggeraak? Sy is opgeneem en gaan dit nie maak nie?”
Uiteindelik deel Nadia hul mee dat sy Nina laat uitsit het, want die veearts kon niks vir haar doen om dinge vir haar beter te maak nie. Net so. Eenvoudig, eerlik en reguit. My vrou is ‘n sterk vrou! Ek is teen dié tyd nog in Bellville besig en probeer aan maniere dink hoe ek saggies my kinders en die dood aan mekaar kan voorstel. Min wetend dat hul reeds voor die skool in die kar met hom kennis gemaak het.
Die middag was lank. Ek het ure lank probeer formuleer aan gesprekke oor wat gebeur het, hoekom dit gebeur het, hoe die dood werk, hoe mens dit kan hanteer en hoe dit deel is van die lewe. Ek was bang vir wat ek daardie middag by die huis sou aantref. En toe word ek verras. Lylah ontmoet my tussen die huis en die motorhuis. Sy gee my een lang en stywe druk. Ek kan hoor sy snik saggies. Toe sy my weer los, kyk sy met oë na my wat sê “dis vrek seer, maar dis somehow okay.” Dieselfde met Emily.
“Leef hul in ontkenning? Besef hulle wat aangaan? Natuurlik doen hulle – hulle is nie stupid nie!” Miskien was dit die ontnugtering wat my die meeste gevang het. Die ontnugtering dat hulle baie meer okay is met die dood as wat ek dink. Hulle wil Nina se as hê, want ons moet ‘n begrafnis hou. En weet jy wat… ons gáán. Ek gaan sommer by Checkers ‘n platter ook bestel.
Ek onthou uit ons studiedae dat die Hebreeuse woord vir dood “moet” is (mens spel dit nie so nie, maar dit klink so). Hoe gepas? Die meeste dinge in die lewe is opsioneel of buigbaar. Veranderbaar. Maar die dood nie. Dit is die grootste konstante. Elke liewe mens gaan daarmee te doen kry. En tog is dit dié ding waarvan ons die meeste probeer wegskroom. Ons probeer die dood met formulerings en praatjies sag maak. Ons soek ‘n kas waarin ons dit kan laat wegkruip tot niemand meer daarna soek nie. Ek probeer my kinders grootmaak in ‘n lewe sonder die dood. Tog móét die dood ook iewers leef.
Toe ek my vliegopleiding gedoen het, het ek gereeld stalls geoefen. Of ‘n engine-out-after-take-off. Soms het ek in die circuit die enjin uitgesny en tot op die aanloopbaan gesweef. Dit help mens om op ‘n manier gewoond te raak aan hoe ‘n noodgeval in jou lyf voel, sodat dit jou minder skok wanneer dit werklik gebeur. Dit vat die angel uit. Is dit nie maar met die dood dieselfde nie? As ons die angel uit die dood wil neem, help dit nie ons vermy enige kontak met die dood nie. Ons moet juis oomblikke skep waar ons veilig en “gekontroleerd” iets daarvan kan ervaar.
Daarom hou ons binnekort vir Nina ‘n diens. Dis vrek seer, maar dis somehow okay.








