“Uit voorraad”

Ek besef dat die “ideale kerk” maar ’n droom is, ’n pie in the sky. Ek dink egter dat Jesus ons wel alles kom leer het oor hoe ’n volmaakte kerk moet lyk, al wyk ons soms (eintlik maar gereeld?) ver daarvan af.

Wat ek die meeste mis, is dat wanneer ons waag om van “die kerk” en “die mense” as aparte entiteite te praat, hulle vir mekaar soveel meer kon wees as wat dit tans is. Te dikwels ervaar ek die kerk soos ’n winkel waar verbruikers – en ek kies dié woord doelbewus – blind is vir mekaar se swaarkry en vreugdes, en net kies en keur wat hulle wil hê, amper as ’n quick-fix vir die week. Iewers het selfs ons waardering vir die sakramente ligsinnig begin word.

En dan is daar die groot leemte… die kerk is soms die plek waar verlorenes en sondaars die minste liefde en vergifnis ervaar. Ons moet onthou: die kerk is niks minder nie as die liggaam van Jesus Christus – dit is kosbaar en eintlik peperduur. “Lewe-duur”!

Hierdie stuk poësie verwoord iets van die hartseer oor wat die kerk vir baie geword het.


“Uit voorraad”

“Nee flippit man, alwéér?”

Die winkel wemel van die mense 

wat die vloere blink polleer,

dié wat posters level hang

en ook dié wat beter diens verlang. 

Rakke vol paashase 

en die kersbome staan mooi sterk,

in die warrelwind van stormloophongeres

wat hier kom shopping doen of werk. 

“Die musiekies is tog te pragtig” 

sê ‘n tannie met ‘n brood. 

Met ‘n “iewers-net-‘n-R5” 

bless sy die bergie en sy nood. 

“Gaan jul weer voorraad kry?” 

Soetwyn is die in-ding – 

of jy proe, slurp, spoeg of suip. 

Wierook is ‘n walm 

wat gewetes hierheen fnuik. 

Tonnels vol ornamente 

vir die molle om te koop,

terwyl hul soek 

na nóg ‘n quick fix hoop te koop. 

Maar iewers is ‘n rak 

op die level van die oog:

“Vergifnis – Out of stock”

Genadekrane tydelik opgedroog.


Lees soortgelyk

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Appels, Braambessies en Geloofsonderskeiding

Baie van ons keuses is nie tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Geloofsonderskeiding is om te weet: God kies nie…

DeurNadia MullerJul 7, 2025