“Ek wil ook gedoop word”

“Ek wil ook gedoop word”, sê klein Emma (6) ‘n paar weke gelede vir haar mamma. Dít nadat hul ‘n erediens by ons bygewoon het waartydens ‘n tweeling gedoop is.

Tydens Nadia se doopgesprekke by hul huis vra sy toe een slag vir Emma: “Emmatjie, hoekom wil jy so graag gedoop word?”

“Want ek is ook lief vir Jesus.”

Ek weet nie of ‘n mens kragtiger kan bely en getuig as dít nie. Ek weet ook daar het al kerkskeurings plaasgevind, vriendskappe is vernietig en familielede is onterf oor die doop. Verbonsdoop. Kleindoop. Grootdoop. Weerdoop. Bekeringsdoop. Ag aarde tog – dat die doop ons so kan laat baklei.

Ek praat nie hier oor enige van dié dope nie. Ek praat van Emma-doop! Die doop soos wat God dit vir Emma wou hê…

Ek weet nie of ek al ooit soveel betekenis in die doop in my lyf gevoel het soos met dié een nie. Dit was in meer as een manier heilig. Besonder heilig. Dit is nou al ‘n week na die doop en steeds kan ek nie droog-oog hieroor skryf nie.


A glimpse of the glory of God!
– Cassie Carstens



Emma het skaam aan haar ma geklou toe Nadia hulle vorentoe roep. Dit is asof sy af en toe liggies aangepor moes word om tóg die volgende tree tot voor die kansel te gee. Nadia het die gebruiklike formulier behandel en vir Emma se ouers die doopvrae gevra. Hulle het “ja” gesê. Maar nou kon Emma ook antwoord. Nadia vra haar ook ‘n vraag of twee, maar besef gou dat die gehoor wat voor Emma sit, haar effe oorweldig.

Nadia sak op haar knieë voor Emma neer, en hou haar boek met die vrae in, voor haar en Emma se gesiggie. Nou is die mense weggesteek. Dit is net sy en Nadia agter die boek, haar ma aan wie se hand sy klou, en God wat nat-oog by die doopvont wag. Sy kyk op en glimlag liggies. Haar “ja” is net net meer as ‘n knik van die kop, maar dit is een van die mooiste “ja’s”. ‘n Stille halleluja.



Sy en Nadia staan nader aan die doopbak… “Emmatjie, ek doop jou in die Naam….” en toe huil ons almal.

In daardie oomblik – al was dit stil – het liefde kliphard gesing. Liefde van ‘n God wat in ‘n 6-jarige se lyf leef en haar van binne af só beweeg dat sy met soveel erns ook gedoop wil word. Liefde wat op daardie oomblik sonder sensitiwiteit en versigtigheid vir dogma en tradisie ‘n druppel op ‘n voorkop raak as bewys: “Ek het jou óók lief. Nog altyd.” Liefde wat grootmense se verstaan van ons eie dope so tasbaar en verstaanbaar oopbreek, dat ons self water teen ons gesigte voel afloop.



Ek het teologie studeer en ons het baie oor die doop gelees, geleer, geredeneer en geskryf. Ek moet tog eerlik wees – eers nóú verstaan ek dit. Oom Cassie Carstens (what a legend) het altyd gepraat van “a glimpse of the glory”. Dit is presies wat Emma se doop was. Miskien is dit hoekom DJ nou eers die doop verstaan. Nie met my kop nie, maar met my lyf en die water wat teen my wang vir wêreld: “Dit is my troos dat ek gedoop is”.



“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat, net soos Christus deur die heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook in ’n nuwe lewe kan wandel.”


Romeine 6:3-4

Lees soortgelyk

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Appels, Braambessies en Geloofsonderskeiding

Baie van ons keuses is nie tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Geloofsonderskeiding is om te weet: God kies nie…

DeurNadia MullerJul 7, 2025