Ek’s ‘n McDonald’s mens


Voor my in die ry staan ‘n ma, seker in haar veertigs, met drie kinders. Hulle filosofeer en kontempleer oor die gedagte of hulle enigsins iets anders, behalwe die drie goedkoop roomyse, by McDonald’s wil bestel. Later begin ek iets soek om teen te leun. As hulle só lank vat om te besluit of hulle middagete hier gaan bestel en of hulle nou sommer net ’n roomys gaan eet, hoe lank gaan dit neem om hul bestelling te plaas, murmureer ek in my binneste. Ek is honger en ek is moeg gewag.

Toe dit uiteindelik my beurt raak om te bestel, moet ek hoor dat die roomysmasjien nou eers weer van vooraf sal moet roomys maak, omdat hulle die laaste roomys gebruik het vir die drie kinders voor my. Die temperatuurmeter op die tjipsmaker en dié op my voorkop se lesings is dieselfde. “Ek is baie haastig, moes lank in ’n ry staan en nou dít!” Ek stap vies by die deur uit.

En toe tref die belaglikheid van dié restaurant my: Ek meld aan by ’n kitskosrestaurant, dan word daar van my verwag om in ’n ry te staan én vir my bestelling te wag. Kort daarna tref ’n ander belaglikheid my: ekself!

Ek het in ’n paar jaar se tyd ’n kitsmens geword. Ek sit nie meer in restaurante wat met sorg en kreatiwiteit my bestelling voorberei nie, ek verkies eetplekke wat binne vyf minute my honger kan stil. Ek koop nie meer saadjies om in die tuin te saai nie, ek kry eerder klein plantjies wat reeds suksesvol aan die groei is, want dan kan ek dadelik sien dat daar iets geplant is. Ek wil nie meer fliek toe gaan nie, ek wil in my TV-kamer sit en dit op Netflix kyk. Ek het die aromatiese ervaring van koffiebone maal verruil vir ’n pakkie kits-Cappuccino. Ek was nie meer die goggatjies van my buffer af nie, ek ry liewer tot by die karwasplek sodat daardie groot borselmasjiene dit kan doen, terwyl ek binne-in die motor sit en luister na ’n selfhelp-podcast.

Maak ons smagting na alles wat kits en maklik is, ons nie juis arm mense nie – mense wat vinniger as tyd probeer leef?

Ek het ’n instant-mens geword – in soveel aspekte van my lewe. Dit het moeite geword om probleme met my medemens ordentlik deur te praat. Ek verkies iets eenvoudig en kits, soos om hulle te ignoreer of te unfriend. Wat gaan van ons word as ons alles in ’n kits en onmiddellik wil hê en doen? Loop ons iets mis omdat ons nie bereid is om ons eie veertig jaar in die woestyn te spandeer nie? Probeer ons tyd wen? Tyd opmaak of spaar? Vir wat? Maak ons smagting na alles wat kits en maklik is, ons nie juis arm mense nie – mense wat vinniger as tyd probeer leef?

Dit gebeur ook in die kerk en met my geloof. Ek stap klokslag die kerkgebou binne, verwag ‘n mooi-verpakte en maklik verteerbare prekie en dan reken ek “ek het weer bietjie pitkos vir die week gekry.” Die preek moet ook maar instant wees. Die dominee moet my die detail spaar en tot die punt kom. Ek gee my geldjie aan die einde van die diens en op pad huis toe stop ek by McDonald’s. Ek is tweede in die ry. Voor my in die ry staan ’n ma, seker in haar veertigs, met drie kinders….


Lees soortgelyk

Hoekom kan mens nie sop met ‘n vurk eet nie?

Ons verwag dikwels van ander om behoeftes te vervul waarvoor hulle nie toegerus is nie. Maar wat as hulle ‘n vurk is – en…

DeurDJ MullerJan 22, 2026

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Lonely. No fun – With wings

’n Lekker ironiese koffiebestelling herinner my: selfs in die woestyn van onsekerheid en swaarkry het God jou nie vergeet nie — jy het nog…

DeurNadia MullerJun 26, 2025

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025