Die “Jesus-bolt”: Méér as net ‘n redder in lugvaart

Ek het jare terug ’n microlight gevlieg. Nie ’n groot of indrukwekkende vliegtuig nie – eintlik maar net ‘n windpomp met ‘n enjin en ‘n vlerk. Wat min mense weet, is dat die hele microlight – die karretjie met die enjin en die vlerk – met een enkele bout aan mekaar vasgesit is. Een. As daardie bout loskom, is daar niks meer wat vlieg nie. Net gravitasie. En gebed. In lugvaart noem ons hom die “Jesus-bolt.”


Dit is ook dié bout wat die hoofrotor van ’n helikopter aan die res van die masjien vasmaak. Sonder daardie bout… wel, daar is nie ’n helikopter sonder hom nie.

In die 2de week van April 2025 het so ’n helikopter in die Hudsonrivier geval. Die rotor het – volgens ooggetuies – losgekom. Die helikopter het doelloos begin tol, toe neergestort. Ses mense dood. Die ondersoek fokus nou op die “Jesus-bolt.” Die een deel wat móés hou. Die een deel wat nie mag breek nie.

Ek kan nie help om te wonder nie: wat gebeur as ons Jesus-bolt ontbreek?

Wat gebeur as Jesus – nie net uit ons politiek of ons skole nie – maar uit ons persoonlike lewens sou verdwyn? Wanneer ons leef sonder daardie een kern-deel wat alles bymekaarhou? Dis maklik om Hom af te skroef of uit te haal sonder dat ons dit eers agterkom. Een rat hier, een morele kompromie daar. ’n Bietjie minder gebed. ’n Bietjie minder luister. ’n Bietjie meer “ek sal self regkom.”

Maar sonder Hom tol ons. Sonder Hom val ons.

Hier in Lydenstyd herdenk ons juis die krag van daardie Een wat nie gebreek het nie. Jesus – wat nie net ons sonde gedra het nie, maar ook die dood in die gesig gestaar het. En toe, op die Sondagoggend, die onmoontlike oorbrug het: Hy’t opgestaan. En toe sê Hy: “Ek is met julle, tot aan die einde van die wêreld.”

Hy is letterlik ons “Jesus-bolt”. Die een wat dra. Die een wat vashou. Sonder Hom, is daar net verdriet.


Lees soortgelyk

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Appels, Braambessies en Geloofsonderskeiding

Baie van ons keuses is nie tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Geloofsonderskeiding is om te weet: God kies nie…

DeurNadia MullerJul 7, 2025