Weet jy nie, weet jy nie jy’s ‘n tempel?

Ek het onlangs te doen gehad met ’n vrou wie se dogter haar gesmeek het om dokter toe te gaan en toetse te laat doen omdat sy nie goed voel nie. Haar reaksie was: “Nee wat, as my strepie getrek is, is my strepie getrek.”

Ai tannie!!

Ek worstel al ’n geruime tyd met hierdie gedagte: “My strepie wat getrek is”—dat ek geen aandeel het in wanneer of waar dit sal wees nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek besef dat God in beheer is, en dat ek nie kán weet wanneer my laaste dag gaan wees nie. Daarom moet ons elke dag aangryp en leef asof dit wel die laaste is. Tog wonder ek of ek nie besig is om God se hart seer te maak as ek nie na my eie gesondheid omsien nie. Wil Hy nie hê dat ek ’n gesonde en lang lewe moet hê eerder as een wat kortgeknip is deur diabetes, hoë bloeddruk, ensovoorts nie—dalk omdat ek nie na myself omgesien het nie?

Hierdie gedagtegang het begin ná my ma se afsterwe. ’n Eenvoudige skoueroperasie het gelei tot ’n reuse hartaanval. Aanvanklik was ek kwaad vir God omdat Hy my nie meer tyd saam met Mamma gegee het nie. Maar toe ek mooi daaroor dink, besef ek: my kwaad moet skuif. Ek moes eerder vir my Mamma kwaad gewees het, wat oor soveel jare haar diabetes en hoë bloeddruk nie ernstig opgeneem het en gesonder geleef het nie. Dalk was haar kanse op oorlewing beter.

Ek weet ek kan nie my lewe verleng deur my oor dinge te bekommer nie (soos Jesus in sy bergpredikasie in Matteus 6:27 sê), maar kan ek dalk my lewe verleng deur dit wat God my gegee het op te pas? En mag ek Hom vra vir hulp? ’n Vriendin vertel hoe haar pa 15 jaar gelede ná ’n ernstige hartaanval gebid het dat God hom nog 15 jaar sal spaar. Hy het gesonder begin leef en in 2024, presies 15 jaar later, is hy oorlede. Is ek braaf genoeg om só eerlik vir God te vra, en sal ek Hom vertrou om my te gee wat ek vra as ek ook my kant bring?

Ek sukkel die afgelope jaar van tyd tot tyd met my eie gesondheid—gelukkig nie iets ernstig nie—maar ek het besluit dat geen dokter, pilletjie of raad gaan help as ek nie by die basiese beginsels begin om na myself te kyk nie: gesonder eet, genoeg oefening, minder spanning, meer lag en meer stil word. Die woorde van 1 Korintiërs 6 was lanklaas in my lewe so waar soos nou:

“‘Alles is my geoorloof,’ maar nie alles is voordelig nie. ‘Alles is my geoorloof,’ maar ek sal my deur niks laat oorheers nie. ‘Kos is vir die maag en die maag vir kos,’ maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

Ek voel oor hierdie saak soos ’n aktivis. Ek wil almal vir wie ek lief is vra om hulself só op te pas dat ons nog lank en gesond saam kan lag en kuier.

Wie is ek om te sê my strepie is getrek, maar ek verheerlik God nie met my liggaam nie? Wie is ek om so onverantwoordelik om te gaan met dit wat God só kosbaar gemaak het, en dit af te skeep en seer te maak terwyl ek wéét wat die regte ding is om te doen?

Ek is ’n gebroke mens in ’n gebroke liggaam—afhanklik van God om my te genees en te laat leef. Ek is kind van God wat besef hoe kosbaar die lewe is, en ek wil my kant bring om gesond te wees. Sodat ek dit wat God geskep het, kan geniet. Sodat ek kan oud word, my kinders en kleinkinders kan sien grootword, saam met my man kan grys word en dalk, as ek 80 is, nog ’n halfmaraton kan hardloop.


Lees soortgelyk

Hoekom kan mens nie sop met ‘n vurk eet nie?

Ons verwag dikwels van ander om behoeftes te vervul waarvoor hulle nie toegerus is nie. Maar wat as hulle ‘n vurk is – en…

DeurDJ MullerJan 22, 2026

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Lonely. No fun – With wings

’n Lekker ironiese koffiebestelling herinner my: selfs in die woestyn van onsekerheid en swaarkry het God jou nie vergeet nie — jy het nog…

DeurNadia MullerJun 26, 2025

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

’n R1-les in dankbaarheid

’n R1 mag vir jou niks beteken nie, maar vir ’n honger kind beteken dit ’n bord kos met smaak – en ’n droom…

DeurNadia MullerMay 16, 2025

Wil God of wil Hy nie?

Is God se wil iets om te verstaan… of iets om te vertrou? Want soms, ten spyte van seer en vrae, sê die hart…

DeurDJ MullerMay 9, 2025

Pantoffels vir die preekstoel

Met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm…

DeurNadia MullerApr 15, 2025

𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟, 𝐣𝐨𝐞𝐫𝐧𝐚𝐥𝐢𝐬𝐭𝐢𝐞𝐤 𝐞𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐨𝐧𝐡𝐞𝐢𝐥𝐢𝐠𝐞 𝐬𝐨𝐬𝐢𝐚𝐥𝐞 𝐦𝐞𝐝𝐢𝐚-𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐠

In ’n wêreld waar waarheid en sensasie deur mekaar loop, roep geloof ons tot verantwoordelike onderskeiding op sosiale media. Hierdie rubriek verken ons rol…

DeurDJ MullerMar 31, 2025

Beloftes van lig – Sleepvoet deur die Kalahari-sand

In die diep donkerte van die Kalahari voel elke stap deur sagte sand soos drie. Maar soms is al wat jy nodig het net…

DeurDJ MullerMar 21, 2025

Seer is onvermydelik, maar lyding is ’n keuse

Seer is onvermydelik, maar lyding is ’n keuse. Wanneer verwyte ons vasvang, gee ons ons krag weg. Ware vryheid begin wanneer ons verantwoordelikheid aanvaar—nie…

DeurDJ MullerMar 3, 2025

Elke hart het ‘n letsel of ‘n rolstoel

Ons almal dra letsels—sommige sigbaar, ander diep versteek in ons harte. Maar net omdat ’n wond nie gesien kan word nie, beteken dit nie…

DeurNadia MullerMar 3, 2025

Languedoc se ryk ou man

Ek wonder of my begrip van “baie het” reg gekalibreer is? My tuinman s’n is wel, dink ek.

DeurDJ MullerFeb 12, 2025

Wees hiervan seker in 2025!

2025 beloof seisoene van vreugde en stryd, maar een ding bly seker: God is teenwoordig in elke oomblik. Omhels elke seisoen, want selfs in…

DeurDJ MullerJan 1, 2025

Liefde het ‘n lyf nodig

Ware liefde is nooit net ’n abstrakte idee nie; dit het ’n lyf nodig. Jesus se menswording wys hoe liefde tasbaar raak deur teenwoordigheid.

DeurDJ MullerDec 23, 2024

“Ligvoet op Sondae” – Waar is ons vreugde?

’n Karwag het gesê Sondae oggende is die moeilikste, want kerkmense is nors, suinig en ongeskik. Wat sê dit oor ons vreugde en getuienis…

DeurDJ MullerDec 11, 2024

Veiligheid van die bekendheid

Ek wonder of ons nie veilig voel wanneer ons ‘n stuk van ‘n veilige verlede weer ervaar nie – die bekendheid van reuke, smake,…

DeurDJ MullerNov 9, 2024

Wet-wipes of Nardus olie?

“In daardie vyf minute van sit met haar voete op my skoot het ek weer besef dat Jesus nie is wie ek dink Hy…

DeurNadia MullerOct 27, 2024

Soms moet ek doelbewus opkyk

As jy jouself vang dat jou hart donker of swaar is, stop ’n oomblik: Kyk op en soek Hom wat vir jou lewe gee.

DeurNadia MullerSep 26, 2024

Soms skuil ek in ‘n grot

“Ons het nou ’n ooreenkoms: as sy voel soos sy voel en nie weet hoekom nie, sê sy vir my: ‘Pappa, ek gaan grot…

DeurDJ MullerSep 21, 2024

As die rand(e) val

Sou ‘n muntstuk my genoeg kon leer oor gelykheid dat ek, soos Jesus, met vreemdelinge om ‘n tafel kon sit?

DeurNadia MullerSep 8, 2024

Dis vrek seer, maar somehow okay!

“Hoe sê ons dit vir die kinders?” wonder ek. “Natuurlike oorsake? Sy het weggeraak? Sy is opgeneem en gaan dit nie maak nie?”

DeurDJ MullerSep 3, 2024

Ek’s ‘n McDonald’s mens

Ons kitslewe steel ons geduld, geloof en gemeenskap. Hoe ons behoefte aan onmiddellike bevrediging ons ware rykdom verminder.

DeurDJ MullerAug 25, 2024

Waarheen het ons tuinhekkies verdwyn?

Ek onthou uit my kinderdae ‘n hele paar tuinhekkies. Maar dis nie die hekkies in die voortuin wat by my bly nie. Dit is…

DeurDJ MullerAug 23, 2024

Vir ingeval – ‘n Gedig

iets het voor my son inbeweeg en die lig kom steel daar is net genoeg oor dat ek nie tromp-op teen ‘n muur vas…

DeurDJ MullerAug 23, 2024

Stop en sien die son

Die padwerke in die vallei het ons in ‘n web van stop-en-go’s gevang. Hierdie gedwonge onderbrekings is ‘n bron van groot frustrasie, ‘n voortdurende…

DeurDJ MullerAug 23, 2024

Wysheid van ‘n Paternoster graf

In Paternoster het ek ‘n vriend gemaak – ‘n wyse kind uit 1981 en sy grafsteen van 1988. Hy weet nie dat ek soggens…

DeurDJ MullerJul 18, 2024