Kitaar van Geloof: Hoe ons saamklink

Die mense in die Ou Testament het ’n probleem gehad: die behoefte aan verlossing. Die antwoord op hierdie probleem was Jesus Christus. Maar Jesus was nie net die antwoord vir die Ou Testament nie; Hy is ook die antwoord vir alles wat daarna gekom het – en wat vandag steeds die antwoord bly. Maar wie is die antwoord op ons hedendaagse probleme? Wie is nodig?

As ons na die wêreld om ons kyk, kan ons nie anders as om te erken dat daar groot probleme is nie. Ons hoor dikwels mense sê: “Ek het vir God, ek het nie die kerk nodig nie.” Ander sê: “Ek woon elke Sondag ’n erediens by en kry my ‘pitkos’, en dit is genoeg vir die week.” Maar is dit werklik genoeg?

Waar pas jy, God en die kerk in, in die aanspreek van die probleme van hierdie wêreld? Romeine 12:4-8 bied ons ’n prentjie wat my aan ’n kitaar laat dink.

’n Kitaar bestaan uit verskeie dele, maar kom ons begin by die nek. Aan die bokant van die nek is die snare vas, en dit is waar die kitaar gestem word. Ek sien hierdie punt as God – ons moet in Hom vas wees, en nie net oppervlakkig nie, maar op ‘n intieme, diepgewortelde manier. Sonder hierdie verbinding beleef ons ‘n groot stuk armoede in ons lewens en is ons nie in staat om werklik die probleme van hierdie wêreld aan te spreek nie. Dit is dus van kardinale belang dat ons diep geanker in God is.

Dan is daar die verskillende snare. Wat so wonderlik is, is dat geen twee snare dieselfde klink nie, en dit is presies reg so. Die teks in Romeine sê vir ons dat ons verskil – en dis juis in daardie verskille dat ons harmonie kan skep. Harmonie, in sy eenvoudigste vorm, is wanneer verskillende klanke saamklink en iets moois skep. Dit is wat ons moet doen – ons mag verskil, ons moet verskil, en dis juis ons verskille wat saam musiek maak wat die wêreld in beweging bring.

Maar daar is ’n derde deel aan hierdie kitaar wat broodnodig is: die klankkas. Interessant genoeg is die een punt van die snaar aan God vas, maar die ander punt aan die klankkas. As ons net aan God vas is, is ons soos ’n slap snaar wat nie klank kan voortbring nie. Dit is die klankkas wat die snaar span en die klank versterk. Hierdie klankkas is die kerk, die geloofsgemeenskap waarin ons leef. Dit is hierdie geloofsgemeenskap wat die klank wat ons snare maak, versterk, meng en uitstuur, sodat die wêreld dit kan hoor en op die ritme van die musiek kan beweeg.

Die rol van ’n geloofsgemeenskap, ’n kerk, is om hierdie klanke te versterk en die wêreld in te dra. Ons het God nodig, ons het mekaar nodig, en ons het die kerk nodig om die musiek van ons geloof hoorbaar en betekenisvol te maak.

So what? Eerstens, ons is nie almal dieselfde nie. Tweedens, nie al die snare speel altyd gelyk nie – en dit is reg so. Soms klink ons vals, maar God is die een wat ons instem, wat ons in harmonie hou. Ons het ‘n geloofsgemeenskap nodig, en daardie geloofsgemeenskap het ons nodig. Jesus was deel van God se plan vir die Ou Testament, en vandag is ons, saam met die kerk, deel van God se plan vir die moderne wêreld.

Luister na ‘n volledige preekopname hieroor

Ons vra so baie: “het die kerk ‘n toekoms?”. Maar moet ons nie vra “het die toekoms ‘n kerk nie?”.


Lees soortgelyk

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Appels, Braambessies en Geloofsonderskeiding

Baie van ons keuses is nie tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Geloofsonderskeiding is om te weet: God kies nie…

DeurNadia MullerJul 7, 2025