Wees hiervan seker in 2025!

Die nuwe jaar lê soos ’n ongeskrewe boek voor ons – vol beloftes, maar ook vol onsekerhede. Daar is egter twee dinge waarvan ons in die nuwe jaar seker kan wees: dit gaan nie altyd net goed gaan nie, en God sal in elke oomblik, elke seisoen, en elke uitdaging saam met ons wees.

Die lewe is soos die seisoene wat Salomo in Prediker 3 so mooi beskryf: “’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te trek, ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag.” Lente en somer bring vreugde, groei en oorvloed, maar winter kom ook – daardie koue, donker tye wanneer dit voel of alles dood en stil is. Ons natuurlike reaksie is dikwels om die winter te probeer oorslaan, om net weer by die somer uit te kom. Maar as ons dit doen, mis ons die dieper genade wat God in daardie moeilike tye aan ons gee.

Wanneer ons in ons swakheid teen die koue winterwind spartel, herinner Paulus ons aan ‘die ‘n kragtige waarheid in 2 Korintiërs 12:9-10: “My genade is vir jou genoeg; my krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Ons seisoene van hartseer, verliese, en uitdagings is dié plekke waar God se krag die sterkste deur ons breek. Dit is in daardie oomblikke dat ons leer om nie net te oorleef nie, maar om opnuut te groei – nes die aarde in die wintertyd voorberei vir lente.

Die lewe laat my ook soos aan die golwe van die see dink… Party golwe tref ons onverwags, slaan ons voete onder ons uit, en laat ons amper sukkel om weer asem te skep. Maar selfs die grootste golf gaan uiteindelik oor. Dit is in daardie oomblikke van sukkel dat ons leer om te vertrou – nie op ons eie krag nie, maar op die God. Hy gee ons die moed om op te staan, weer in die see en golwe in te stap, en selfs die ritme van die branders te geniet.

In die nuwe jaar gaan ons ook sulke golwe ervaar. Daar sal seisoene van vreugde en oorvloed wees – dank God daarvoor. Maar daar sal ook seisoene van hartseer en swaarkry wees – omhels dit, want dit is hier waar ons God se krag die duidelikste sien. Wanneer ons terugkyk, sal ons nie net die somers onthou nie, maar ook die groei wat in die winters plaasgevind het.

Mag die nuwe jaar vir jou ’n jaar wees waarin jy nie seisoene vrees nie, maar elke oomblik omhels. Mag jy in elke golf God se teenwoordigheid ervaar, en mag jy weet dat, maak nie saak hoe diep die winter of hoe sterk die golf nie, Hy altyd daar is – sterker, groter en nader as wat ons ooit kan droom.


Lees soortgelyk

Hoekom kan mens nie sop met ‘n vurk eet nie?

Ons verwag dikwels van ander om behoeftes te vervul waarvoor hulle nie toegerus is nie. Maar wat as hulle ‘n vurk is – en…

DeurDJ MullerJan 22, 2026

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

Ek wens soms ek het anders gebid

‘n Kykie na wat dit beteken om God se teenwoordigheid te ontdek – nie net in wonderwerke nie, maar juis in siekte, seer en…

DeurNadia MullerJul 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025