Ek staan in die kombuis, besig om ‘n koek te bak vir Emily se verjaarsdag. Die opgewondenheid borrel. Sy is reg langs my – hande vol meel, en ‘n gesiggie vol afwagting. Sy help my om die bestanddele in te gooi en te meng, en die versiersuiker is oral – ons is besig met die geel rant om die LEGO koek.
En toe, terwyl ek die versiersuiker roer, lui my foon. Dis ‘n vriendin. Haar woorde: “Nadia, it’s getting cold and dark but we still have an hour’s drive left…” Gister het sy my ook gekontak – net ‘n benoude WhatsApp wat vra ek moet dringend bid. Haar kleinseun (4) was in ‘n fratsongeluk en sy pa jaag met hom hospitaal toe. Kort daarna kom nog ‘n korter boodskap: “He has died!”. Terwyl ek koek versier is hulle op pad van die Paarl af om by haar seun en skoondogter in Mpumalanga te wees.
En daar staan ek toe – een hand vol geel versiersuiker, en die ander hand met ‘n foon wat in die afgelope paar ure die middelman van baie seer nuus en gesprekke was. Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.
Ek kan nie die een kant toe skuif om eers net by die ander te wees nie. Ek is gelyktydig in beide. En dis moeilik.
Die maklikste sou wees om die foon neer te sit en net koek te versier – net te bly by wat mooi is. En ek dink ons doen dit dikwels. Ons hardloop verby die seer, vermy dit, wens dit weg. Ons klou aan die lekker, die lig, die vreugde en versiersuiker – en hoop dit is genoeg om die res stil te hou.
Maar die waarheid is: ons lywe weet van die pyn. Al probeer ons dit onderdruk of wegsteek, word dit tog iewers binne-in ons gebêre. En dan, jare later, wonder ons waar die maagsere, hoë bloeddruk of hartprobleme vandaan kom. Dis ons liggame wat fluister – of skree – oor wat ons siel nie erken het nie.
Ons vergeet dat pyn nie net verbygaan as jy dit ignoreer nie. Dit sit, dit wag. En tensy ons dit uithaal, aanspreek, erken, raak dit deel van ons – ‘n ongenooide gas wat sy eie spasie in ons binneste vat.
Ek onthou hoe Nataniël eenkeer vertel het van ‘n familie wat al hulle probleme letterlik onder die sitkamer-mat in vee. Die huis het altyd netjies gelyk, maar op ‘n stadium kon niemand meer oor die mat loop nie – dit het so bol gestaan van al die weggesteekte goed, dat selfs die koffietafel nie meer daarop kon staan nie.
Ek sê nie ons moet nou in selfbejammering verval nie. Ek sê net: ons moet ophou om te leef asof seer geen reg het op ons aandag nie. Want dit het. Want dit maak deel uit van die lewe. En ons kan nie werklik heel wees as ons net die mooi vashou nie.
Wat as ons leer om beide vas te hou? Wat as ons kan sê: ek lag, én ek huil. Ek is bly, én ek is hartseer. En dis okay. Albei is welkom.
Soms is lag en huil bedmaats. Soms verdiep die pyn ons vermoë om vreugde te waardeer. Soos daai glas koue water ná ‘n lang, warm, uitputtende draf – dis soveel lekkerder as die een wat jy drink sonder enige moeite vooraf.
Maar dan wonder ek: hoe doen mens dit regtig? Hoe hou ek die pyn vas sonder om daarin vas te val? Hoe stap ek saam met die seer, sonder om te bly lê?
Ek weet ek kry dit net reg as ek bewus is van God se teenwoordigheid in albei. Dis wanneer ek onthou dat Hy tegelyk daar is – by die LEGO-koek én by die rou. Hy lag saam met my dogtertjie, en Hy huil saam met my vriendin. Hy is teenwoordig in die uiterstes van my menswees.
There’s a grace when the heart is under fire
Another way when the walls are closing in
And when I look at the space between
Where I used to be and this reckoning
I know I will never be alone
“Another in The Fire” deur Bethel Music
En dís genade: nie dat ons pyn gespaar word nie, maar dat ons nooit alleen daarin hoef te wees nie. Nie dat die lewe altyd net mooi is nie, maar dat God teenwoordig is in die mooi én die seer. Dis dalk die grootste geskenk: dat ek mag lag terwyl ek trane afvee. Dat ek nooit net die een gevoel op sy eie hoef te dra nie.