Pantoffels vir die preekstoel

“Ek sien jy het jou dominee skoene aan,” sê ’n tannie nou die dag vir my by ’n troosdiens – een wat ek nie eens gelei het nie. Dis seker daardie swart hakskoene van my wat my 1,8 meter tot amper 1,9 meter lank maak. Of dalk was dit die pienk paar wat my op ooghoogte met my man bring. Ek kan nie onthou nie – en dit maak ook nie regtig saak nie. Maar die tannie was reg. Daar is twee, dalk drie pare skoene in my kas wat ek aantrek as ek “dominee” moet wees.

Ek was nog altyd lief vir mooi hakskoene, al het ek nie die ekstra lengte nodig nie. Dan is daar natuurlik my tekkies. DJ sal sê ek het ’n probleem, want ek het ’n hele paar pare: my duur draftekkies, gymtekkies, trailtekkies en netbaltekkies. Dalk hét ek ’n probleem… ’n te groot liefde vir ordentlike tekkies – en elkeen het sy eie werk in my lewe.

Daar is ook my sandale vir vinnig winkels toe gaan, gewone flipflops vir as ek vinnig oor nat gras die kraan moet gaan toedraai, die swart sneakers wat my blase gee, maar party dae reg voel vir ’n uitrusting. Dan kom die winters- en waterstewels, my wolpantoffels, en natuurlik die mooi leer skoene wat my soos ’n feetjie laat voel en met byna enigiets werk.

Ek het regtig nie so baie skoene in vergelyking met ander mense nie. En tog, as ek eerlik is, hou ek eintlik die meeste van kaalvoet wees. In my ideale wêreld sou skoene onnodig wees. Maar ek geniet my hakke, en ek waardeer my tekkies wat die draf vergemaklik.

Jy dink dalk nou: “Hou op praat oor die skoene. Kom tot die punt.” En ek sal, ek belowe.

Die punt is: as ek daardie dominee skoene aantrek, weet my hart, kop en lyf – ons moet nou ’n sekere rol vertolk. Grimering volg gewoonlik ook.

As ek my draftekkies aantrek, weet my hele wese: ons gaan nou pad toe.

As ek my trailtekkies aantrek, weet ons: dis berg toe.

As ek my sandale aantrek, weet ek: iewers gaan daar ’n drafstappie wees – al is dit ook die skoene wat ek aantrek as ek saam met ’n vriendin gaan koffie drink.

As ek my waterstewels in die winter aantrek, voel ek vreesloos – ek loop deur alle plasse en poele, ongeag die modder of diepte – sommer net omdat ek kán.

Maar as ek my skoene uitskop en die koue vloer of mat onder my voete voel, weet ek: ek’s by die huis. Nou is ek net mamma, vrou, en ook net Nadia.

Wat ek probeer sê, is dat jy aan my skoene kan sien watter hoed ek daardie dag op het, watter rol ek vertolk, of watter werk ek doen. Moet nou asseblief net nie, as jy my op straat sien, eerste na my voete kyk nie – ek het nie die mooiste voete nie. Maar dalk lyk ek in my dominee skoene anders as in my netbaltekkies. Want daar ís ’n verskil wat in my hart, kop en lyf gebeur. Verskillende rolle vra verskillende hoeveelhede selfvertroue, broosheid, fisieke of emosionele krag.

Aan die einde van die dag, wanneer ek my skoene uitskop, is dit elke keer dieselfde voete wat uitklim.


My skoene help my dikwels om tussen die rolle te onderskei – ek kan immers nie netbal speel in my dominee skoene nie. En ek kan nie troue doen in my wolpantoffels nie.

Die grootste waarheid is egter dit: of ek myself nou gereed maak om te preek, te draf, te speel of te kuier – aan die einde van die dag, wanneer ek my skoene uitskop, is dit elke keer dieselfde voete wat uitklim. Die mens aan die binnekant bly dieselfde, ongeag die rol wat ek moet vertolk. Want uiteindelik is dit nie net rolle nie, maar verskillende fasette van wie ek is.

Soms moet ek eintlik netbal speel met een tekkie en een hakskoen. Ander kere moet ek kaalvoet staan in die kerk. Want elke stukkie – al die kombinasies van skoene en geen skoene – maak die geheel van wie God my gemaak het om te wees. Soms gee die skoene my braafheid, ander kere herinner hulle my aan my broosheid.

Ek dink die punt wat ek wil maak, is dit: met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm deur een wonderlike God wat jou met ál jou verskillende dele gemaak het.

As ons dit net altyd kan onthou, dan maak dit nie saak watter skoene jy dra nie. Jy sal steeds kan staan met die wete: Hy staan langs jou. In Sy hakke, Sy tekkies, Sy pantoffels, Sy sandale, en kaalvoet.

Hy is dieselfde God wat voor in die kerk staan, op die netbalbaan is, en saam met jou in die berg draf. Hy weet dat dieselfde gebarste hakke in mooi hakskoene staan – of in uitgeloopte plakkies. En Hy wil deel wees van elke rol en elke plek in jou lewe.

Hy wil ook die Een wees by wie ek eerste my skoene uitskop.


Lees soortgelyk

Lonely. No fun – With wings

’n Lekker ironiese koffiebestelling herinner my: selfs in die woestyn van onsekerheid en swaarkry het God jou nie vergeet nie — jy het nog…

DeurNadia MullerJun 26, 2025

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

’n R1-les in dankbaarheid

’n R1 mag vir jou niks beteken nie, maar vir ’n honger kind beteken dit ’n bord kos met smaak – en ’n droom…

DeurNadia MullerMay 16, 2025

Wil God of wil Hy nie?

Is God se wil iets om te verstaan… of iets om te vertrou? Want soms, ten spyte van seer en vrae, sê die hart…

DeurDJ MullerMay 9, 2025

Die “Jesus-bolt”: Méér as net ‘n redder in lugvaart

In Lydenstyd dink ons aan Jesus se kruis en opstanding – die kern van ons geloof. Maar wat gebeur as daardie kern verdwyn? Soos…

DeurDJ MullerApr 15, 2025

𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟, 𝐣𝐨𝐞𝐫𝐧𝐚𝐥𝐢𝐬𝐭𝐢𝐞𝐤 𝐞𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐨𝐧𝐡𝐞𝐢𝐥𝐢𝐠𝐞 𝐬𝐨𝐬𝐢𝐚𝐥𝐞 𝐦𝐞𝐝𝐢𝐚-𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐠

In ’n wêreld waar waarheid en sensasie deur mekaar loop, roep geloof ons tot verantwoordelike onderskeiding op sosiale media. Hierdie rubriek verken ons rol…

DeurDJ MullerMar 31, 2025

Beloftes van lig – Sleepvoet deur die Kalahari-sand

In die diep donkerte van die Kalahari voel elke stap deur sagte sand soos drie. Maar soms is al wat jy nodig het net…

DeurDJ MullerMar 21, 2025