“𝐈𝐬 𝐝𝐢𝐭 𝐦𝐨𝐨𝐧𝐭𝐥𝐢𝐤 𝐝𝐚𝐭 𝐞𝐤 𝐢𝐧 𝐝𝐚𝐚𝐫𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐞𝐞𝐫𝐤𝐫𝐲 𝐨𝐨𝐦𝐛𝐥𝐢𝐤 𝐧𝐢𝐞 𝐦𝐲 𝐞𝐢𝐞 𝐧𝐢𝐞, 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬 𝐬𝐞 𝐩𝐲𝐧 𝐞𝐫𝐯𝐚𝐚𝐫 𝐡𝐞𝐭?”
Het jy al ooit by ‘n plek of situasie weggestap en ‘n diep pyn ervaar? Jou hart, jou kop, jou hele wese het gepyn vir die onreg wat jy gesien het of die seerkry van ander wat jy beleef het. Onlangs het ek so ‘n ervaring gehad. Die situasie het nie eers direk met my gebeur nie, maar toe ek wegstap, het my hele wese gepyn – tot op die been. Op pad huis toe het ek gebid en vir die Here gevra: “Hoekom is dit só seer?”
‘n Paar dae later sit ek by my spirituele begeleier en deel hierdie ervaring met hom. Na ‘n oomblik van stilte vra hy vir my: “Het jy al so daaraan gedink dat Jesus in ons bly en ons in Hom, en dat die pyn wat jy ervaar het, nie jou eie is nie, maar juis Syne?”
𝐈𝐬 𝐝𝐢𝐭 𝐦𝐨𝐨𝐧𝐭𝐥𝐢𝐤 𝐝𝐚𝐭 𝐞𝐤 𝐢𝐧 𝐝𝐚𝐚𝐫𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐞𝐞𝐫𝐤𝐫𝐲 𝐨𝐨𝐦𝐛𝐥𝐢𝐤 𝐧𝐢𝐞 𝐦𝐲 𝐞𝐢𝐞 𝐧𝐢𝐞, 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬 𝐬𝐞 𝐩𝐲𝐧 𝐞𝐫𝐯𝐚𝐚𝐫 𝐡𝐞𝐭?
Hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe meer het ek besef: dit is presies wat gebeur het. Jesus sê in Johannes 15:5: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” Paulus skryf in Galasiërs 2:19-20: “Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
As Christus in my leef en ek in Hom, is die pyn wat ek ervaar nie net my eie nie, maar ook Syne. Jesus het by Lasarus se graf gehuil, nie omdat Lasarus se dood vir Hom so erg was nie, want Hy het geweet Hy gaan hom opwek. In Johannes 11:33 lees ons: “Toe Jesus sien dat Maria huil, en dat ook die Jode wat saam met haar gekom het, huil, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword.”
Maria en die ander Jode se pyn het Jesus se pyn geword. Ons pyn word Sy pyn, maar dikwels is die pyn wat ons voel, ook Sy pyn. Ek besef nou, terwyl ek skryf, dat dit oor baie meer as pyn gaan – wanneer ons iets moois sien en ons harte word warm, is dit ook Jesus se hart wat warm word. Wanneer ons iets bereik en ons trots voel, is dit die Here wat trots is oor wat ons bereik het. En wanneer ons ten spyte van vrees moeilike dinge aanpak, is dit God se krag wat in ons werk, nie ons eie nie.
Ons leer ons kinders dat Jesus “in hul hartjies bly”, maar dalk dit is tyd dat óns dit self begin glo en die effek daarvan begin herken.