Ek sit in die kapel by AMSS en is sommer net stil. Oor ’n paar minute moet ek die middagkapel lei. Dit is altyd vir my ’n groot lekkerte, en ek is altyd baie bewus van God se teenwoordigheid hier. Hier is ook amper elke keer ’n ladybug wat in die kapel rondloop, wat my net fisies herinner dat God teenwoordig is. (Gaan lees die blog oor my band met ladybugs – https://2dominees.co.za/gee-my-vandag-my-daaglikse-ladybug).
Vandag, toe ek afkyk, sien ek net twee dooie ladybugs. My eerste gedagte was: “Sjoe, ek sou eerder ’n lewendige een wou sien.” Ek weet van die gang van die lewe en dat die dood ’n “moet” is, nie ’n straf nie. Maar as ek aan God se teenwoordigheid dink, dink ek aan lewe. Ek sit toe en kyk na die twee ladybugs en wonder by myself: Dalk is daar iets wat God vir my wil leer deur hierdie dooie ladybugs.
Ek het my oë ’n oomblik toegemaak en sommer net vir die Here gevra: “Is daar iets wat ek moet sien of leer, Here?” Onbewustelik het ek my kop boontoe gedraai terwyl my oë toe was, en toe ek my oë oopmaak, kyk ek dak toe. Daar loop seker 10 ladybugs rond. WOW! Spontaan het ek begin glimlag…
Ek het twee dinge geleer:
Psalm 121 is reg as dit lees:
“Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.”
As ek net bly afkyk het, sou ek net die dood gesien het. Maar omdat ek opgekyk het, het ek die oorvloedige lewe gesien. Dikwels in ons lewens kyk ons net af – ons sien net dit wat verkeerd is, wat seermaak, kwaad maak, ongeduldig maak, moedeloos maak. Ons fokus so op dood, geweld, stukkend, en verkeerd, dat ons lewens deur negatiewe gevoelens gedryf word.
Mens kla oor die padwerke, finansies wat soms beroerd is, die mense by die werk wat ons moedeloos maak, die winkels wat te besig is, die kliëntediens wat te stadig is, die paaie wat vol gate is, die petrol wat te duur is. Ek moes alweer by die verkeersdepartement gaan staan… Kyk hoe ry die taxi’s! Voor ons ons kom kry, is ons mense met harte vol negatiwiteit, ongelukkigheid en onvergenoegdheid. Maar God nooi ons uit: stop ’n oomblik en kyk op. Hy, die Beskermer van Israel, slaap nooit nie. Hy is altyd daar om lewe in oorvloed te gee – in die mooiste bloeisels wat oral in die lente hul kop uitsteek, in die stories van mense waarna ons luister, in die lag van ons kinders, die drukkie van ’n vriendin, die liefde van jou eggenoot. In die feit dat jy ’n werk het, ’n voertuig het, ’n huis het, goeie koffie kan drink, diep asem kan haal en kan lééf.
Die tweede ding wat ek besef het, is dat die twee ladybugs op die grond nie minder ladybug was as die tien op die dak nie. God is net so teenwoordig in ons nood, seer, woede, frustrasie, ongeduld, ons jaag en stukkend wees, as wat Hy is in ons vreugde, viering, oorvloed, rus en lewe.
So as jy jouself vang dat jou hart donker of swaar is, stop ’n oomblik: Kyk op en soek Hom wat vir jou lewe gee.