Wil God of wil Hy nie?

Dit is vir my geweldig moeilik om vrae oor God se wil te antwoord – en om eerlik te wees, dit is iets waarmee ek self al baie keer geworstel het. Want as ek sê “God wil,” dan moet ek mos ook erken dat “God wil nie” ook ‘n opsie kan wees? En dit is juis waar my denke hieroor dikwels struikel. Hoekom sou God nie wil nie? Of meer nog – hoekom sou Hy iets sleg toelaat? As God almagtig is, hoekom keer Hy nie die seer, die verlies, die donker goed wat oor ons pad kom nie?

Full disclosure: Ek is nie gemaklik met “alles het ‘n doel” of “God het dit oor my pad gestuur” praatjies nie. Ek dink die lewe is baie meer kompleks as dit.

Ek het al gesê dat ek eerder verkies om te praat van God se droom vir my lewe, as van God se wil. Drome het hoop in hulle, ruimte, lig. “Wil” voel soms koud en ver. Iewers het iets vir my oopgegaan hieroor die afgelope tyd… Ek wil probeer om hierdie spanning uit te pak – en ek wil dit doen deur jou saam te vat na twee kamers: die kamer van die kop en die kamer van die hart.

Eers: die kamer van die kop


Hier probeer ons dink oor God se wil. Maar dit is nie so maklik nie. Hier begin ons vrae vra soos:

Het God hierdie moeilike ding oor my pad gebring? Hoekom het Hy dit toegelaat? Hoekom keer Hy nie slegte dinge nie? Hoekom spaar Hy ons nie van pyn nie?

Maar ek het al besef — wanneer ek op hierdie manier oor God se wil probeer dink, is ek in die verkeerde kamer. Dit is soos om vir ‘n sesjarige kind te vra om dié som te maak:

Neem die jaar waarin Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing gehad het, tel daarby die huidige BTW-koers, plus een, minus tien. Maal dan jou antwoord met twee. ‘n Volwassene kan dit maklik uitwerk, maar vir ‘n kind is dit eenvoudig onmoontlik — nie omdat die kind dom is nie, maar omdat hy of sy nie die verwysingsraamwerk het nie.

Net so is dit met ons en God se wil. Wanneer ons met net ons verstand probeer verstaan, mis ons dalk iets baie belangriker. Want God se wil is nie net iets om te verstaan nie. Dis iets veel groter.

Dan: die kamer van die hart


Dis hier waar dinge anders begin werk. Hier redeneer ons nie – ons voel. En hier klink een van die belangrikste verse in die Bybel duideliker as ooit:

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Romeine 8:28)

Wanneer ons in die kamer van die hart oor God se wil praat, dan sê ons nie altyd presies hoe of hoekom dinge gebeur nie. Ons sê eerder: Somehow, gaan dit okay wees. Want Christus het reeds die finale oorwinning behaal. Die wedstryd is klaar gewen.

Ek dink aan ‘n rugbywedstryd. Die een span loop teen die middel van die twee helfte met 70 punte voor. Een van hulle skop na die pale – en mis. Dis sleg in die oomblik, ja. Maar hulle gaan nie die wedstryd verloor nie. Die uitkoms is nie in gevaar nie. En net so, in Christus het ons die lewe gewen. Ons mag dalk soms die pale mis, dalk seerkry op die veld. Maar die uitslag is nie in twyfel nie. Ons het klaar gewen.

En dan is daar nog ‘n beeld, vir my selfs nog nader aan die hart. Ek is ‘n aangenome kind. My pa vertel dat daar een spesifieke oomblik was toe hy gevoel het ek weet hy is my pa. Ek was nog baie klein. Ons het by ‘n besige winkel uitgekom en buite was dit lawaaierig, besig en vol vreemde mense. Ek het net my kop in sy nek gedruk, my arms om hom geslaan en hom styf vasgeknyp in dit wat ek in my lyf se greep kon vasgryp.

En dit, dink ek, is hoe ons God se wil regtig moet benader. Nie altyd probeer verstaan met die kop nie. Maar vasdruk. Vas aan Hom. Soos ‘n kind wat weet: Ek is veilig in my pa se arms.

Wanneer ons oor God se wil praat, moet ons mooi kyk in watter kamer ons staan. As ons net met ons koppe probeer redeneer, gaan ons dalk moed verloor. Maar as ons in die kamer van die hart staan – daar waar ons voel, vertrou, en vashou – dan beleef ons iets anders. Dan weet ons: al is dinge sleg, al verstaan ek nie – somehow gaan dit okay wees.

Want Hy laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.


Lees soortgelyk

Lonely. No fun – With wings

’n Lekker ironiese koffiebestelling herinner my: selfs in die woestyn van onsekerheid en swaarkry het God jou nie vergeet nie — jy het nog…

DeurNadia MullerJun 26, 2025

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

’n R1-les in dankbaarheid

’n R1 mag vir jou niks beteken nie, maar vir ’n honger kind beteken dit ’n bord kos met smaak – en ’n droom…

DeurNadia MullerMay 16, 2025

Pantoffels vir die preekstoel

Met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm…

DeurNadia MullerApr 15, 2025

Die “Jesus-bolt”: Méér as net ‘n redder in lugvaart

In Lydenstyd dink ons aan Jesus se kruis en opstanding – die kern van ons geloof. Maar wat gebeur as daardie kern verdwyn? Soos…

DeurDJ MullerApr 15, 2025

𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟, 𝐣𝐨𝐞𝐫𝐧𝐚𝐥𝐢𝐬𝐭𝐢𝐞𝐤 𝐞𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐨𝐧𝐡𝐞𝐢𝐥𝐢𝐠𝐞 𝐬𝐨𝐬𝐢𝐚𝐥𝐞 𝐦𝐞𝐝𝐢𝐚-𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐠

In ’n wêreld waar waarheid en sensasie deur mekaar loop, roep geloof ons tot verantwoordelike onderskeiding op sosiale media. Hierdie rubriek verken ons rol…

DeurDJ MullerMar 31, 2025

Beloftes van lig – Sleepvoet deur die Kalahari-sand

In die diep donkerte van die Kalahari voel elke stap deur sagte sand soos drie. Maar soms is al wat jy nodig het net…

DeurDJ MullerMar 21, 2025