Wit motors, helder gloeilampe in elke vertrek, RSG en ‘n koue skaapboud met soet mosterd vir kersdag…
Is ek terug in my grootword huis? Of is ek besig om uiteindelik ook ‘n grootmens te word?
In matriek kon ek nie wag om uit die huis te kom nie. In Pretoria sou dié Karooseun alles op sý manier kon doen. Ek het ‘n UV buislig in my badkamer gehad (in die aand was net my tande, die toiletpapier en waspoeier verlig), alles behalwe RSG geluister en my neus opgetrek vir die skaapboud as ek kerstyd huis toe gaan. “Ek doen dinge nie meer so nie…!” Selfs toe ek en Nadia getrou het, het ons aangedring om dinge óns way te doen. Dit het amper verkeerd gevoel om dinge te doen soos wat ons ouers dit al die jare gedoen het. Miskien het ons gereken dat dit ‘n teken is dat mens nie jouself wou ontdek en ontwikkel nie. Ons het alles nuut probeer doen. Anders. Selfs toe ons al dominees was… Ons het altyd nuut probeer dink oor dinge van die kerk en daarom was Paastyd en Kerstyd die mees uitmergelende tye vir ons, want ons moes vorendag kom met asemrowende nuutgeskape dienste of temas.
Nou is dit 2024 en ek en Nadia gesels alweer oor hoe ons vanjaar se kerssangdiens nuut en vars kan aanpak – iets doen wat deur geen dominee en geen kerk al gedoen is nie. Tog, diep binne wil ek net die geboorteverhaal in kleiner dele opdeel, dit laat lees deur mense in die voorste bank wat ‘n mikrofoon moet deel, en kersliedere met die orrel speel terwyl die mense lekker sing. Is dit dalk hoekom ons basaar hierdie jaar so reuse sukses was? Omdat dit juis ‘n basaar was, en nie ‘n “makiti”, musiekfees of ‘n “naam-van-iets-maar-ons-noem-dit-nie-‘n-basaar-nie”? We went back to basics, and I loved it!
Vir kersdag beplan ons ‘n tipiese kersdag ete. Wat is dit? Ek weet nie, maar elkeen bring wat ook al “tipies” voel. Vir my is dit koue skaapboud met mosterd en Hanepoot. Is ek net lus daarvoor? Nee, ek hunker daarna. Ek het dit nodig. Ek het nodig om dinge te doen soos ek dit onthou. Hoekom?
Ek wonder of ons nie veilig voel wanneer ons ‘n stuk van ‘n veilige verlede weer ervaar nie – die bekendheid van reuke, smake, klanke, ritmes en emosies. Die ritme van Maandag tot Donderdag aand na die pinksterdiens toe stap, en die boeke wat na die tyd in die voorportaal te koop is. Die reuk van vrugtekoek en rooibostee in ‘n sonkamer met ‘n waterkoeler aan. Die smaak van ouma se soet mosterd. Die klank van RSG op ‘n alarm clock met rooi syfers op ‘n bedkassie.
Dis amper asof ons almal ’n ingeboude kompas het wat ons na die verlede trek, daardie bekende pad wat al soveel keer geloop is. Sielkundig gesproke leef hierdie nostalgie diep in ons omdat die verlede ’n vorm van sekuriteit bied—dit is bekend, dit is al ervaar, en ons weet wat daar lê. Ons siel en brein keer dus dikwels terug na daardie sekuriteit soos ’n skip wat anker gooi om veilig te voel.
Wanneer ons terugdink aan die verlede, word die brein gevul met ’n mengsel van oksitosien en serotonien—daardie chemiese stowwe wat ons kalmeer en laat voel dat alles reg is, net vir ’n oomblik. Dit is ’n soort ontsnapping, ’n emosionele anker in ’n wêreld wat altyd verander. Ons brein skep hierdie herinneringe as ’n soort skuiling, amper soos ’n huis waarna ons kan terugkeer. Ons onthou miskien nie alles perfek nie, maar dit is nie die detail wat saak maak nie; dit is die gevoel daarvan wat werk.
Vanuit ’n evolusionêre oogpunt is dit ook sinvol—die brein leer uit wat al gebeur het en bou ’n padkaart vir die toekoms, iets om vas te hou wanneer die pad voor ons onseker is. Dit is hoekom ons teruggryp na die bekende, daardie ligpunte in ons geheue wat soos sterre in die donker gloei, herinneringe wat ons veilig hou, al is dit net vir ’n oomblik.
Ek weet nie of dit ‘n ouderdom ding is of die feit dat dit ‘n rowwe jaar (soos elke liewe ander jaar) was nie, maar ek smag na ‘n ou bekendheid en voorspelbaarheid. Albei ons motors is wit, ek het al die dowwe gloeilampe met helderes vervang. RSG livestream op my foon, en ek gaan nou ‘n skaapboud by Goedehoop gaan koop en vir tannie Paulina vra vir nog ‘n potjie van haar mosterd, want ons s’n is al op.