Ek wou regtig nie wéér Sondag oor Johannes 4 preek, oor Jesus wat die Samaritaanse vrou by die put ontmoet nie, maar God het ander planne gehad. So gebeur dit toe dat ek vir die sesde keer oor dié verhaal preek in een jaar. Hoekom ses keer? Wel, die verhaal het op verskillende maniere keer op keer in my preekvoorbereiding op my tafel “geland”. ‘n Paar keer het ek al vir die Here gesê: “Dis seker nou die laaste keer, of hoe Here?” Elke keer het ek egter weggestap, maar God het my teruggeroep na dié verhaal, sodat ek Hom weer by die put in my studeerkamer moes ontmoet. Elke keer was Sy antwoord: “…die laaste keer? Nog nie!”
My netbalspan en hul ouers was bang, want “dit is nie ons plek nie”.
Ons skool (een van die meer gegoede skole in die dorp) speel teen Paulus Joubert Laerskool (een van die baie arm staatskole in ons dorp). Die skool is in Paarl-Oos, ‘n deel van die dorp waar min middel- tot ryk klas mense ooit kom, want hier skree die armoede so hard dat jy sommer jou oë en ore toedruk as jy wel daardeur moet beweeg. Hier is ons land se ekonomiese wanbalans pynlik sigbaar.
My netbalspan en hul ouers was bang, want “dit is nie ons plek nie”. Die mense hier praat Afrikaans, maar dis ‘n anderste Afrikaans. Ons het drie keer na ons karre teruggeloop om seker te maak dit is gesluit. Ons het ons kosbare items in die kattebak toegesluit of saamgevat, want “wat as iemand ons karre steel of inbreek”? Ja, ek weet ons bly in Suid-Afrika en jy moet versigtig wees, maar dié middag was ek ontsteld toe ek besef hoe klein my eie wêreld geword het – dat ek nie méér kere myself juis hier bevind nie. Hier waar ek dink Jesus juis so tuis sou wees.
Johannes 4 het my hierdie keer geleer dat Jesus juis mense ontmoet het wat anders as Hy was – die uitgeworpenes, die armes, vroue, kinders, siekes, ensovoorts. Hy het hulle met liefde ontmoet en tot hul menswaardigheid bygedra. Ek het weer besef dat Jesus meer tuis sou wees op die anderste-as-waaraan-ek-gewoond-is netbalbaan by Paulus Joubert, tussen die kaalvoet netbalspelers en hul luidrugtige ouers, as in my stemmige, skoon, nuwe kar, saam met my bang, bevooroordeelde hart.
So, ek moes sê: “Ja, Here, spreek weer met my uit Johannes 4, want ek het duidelik nog nie in die afgelope jaar genoeg geluister nie.”