Dit is comforting om te glo dat ons lyding altyd deur iemand anders veroorsaak word. Dat dit die seer woorde, onregverdige dade of teleurstelling deur ’n ander is wat lyding bring. Ons vind selfs geweldige troos daarin om God te blameer vir ons lyding. Maar wat as lyding nie daarin lê nie? Wat as die eintlike bron nie is wat iemand gedoen het nie, maar hoe ek dit verwerk, vertolk en vasklou?
Ons bou narratiewe in ons gedagtes. Ons skryf stories oor ons pyn, plak etikette op seer gebeure, soek oortreders en skuldiges om aan te kla. Dit is hoe ons sin probeer maak van onreg, hoe ons geregverdig voel in ons seer. Maar verwyte is ’n maklike uitweg – een wat nooit na werklike bevryding lei nie. Dit plaas die fokus buite onsself, in ’n toestand van wag: wag vir vergifnis, wag vir regstelling, wag vir iemand anders om te verander. En in daardie wag verloor ons die vermoë om vorentoe te beweeg.
Ons het geen beheer oor ander mense se dade nie. Die harde realiteit: hulle gaan foute maak, onregverdig optree en ons teleurstel. Maar die volgende stap – ons reaksie, ons emosies, die narratief wat ons kies om te dra – is ons eie. Dit is hier waar ware skill lê: in die besef dat lyding nie deur die eksterne veroorsaak word nie, maar deur ons wat vasklou aan dit wat nie verander kan word nie.
Dit beteken nie dat pyn ontken moet word nie. Seer is werklik. Maar lyding – die blywende wond wat keer op keer sweer en bloei, die gedagtes wat die seer van die verlede herkou – dit is iets anders. Dit is ’n keuse. ’n Keuse om óf as slagoffer te leef, óf as iemand wat kies om te groei. Die hartseer is dat baie mense so erg vasgevang raak in hierdie ervarings van slagoffer wees, dat hul aan Victimhood Mindset begin lei. Die Victimhood Mindset (slagoffermentaliteit) is nie ’n formele diagnose in die DSM-5 nie, maar dit beskryf ’n sielkundige en gedragsmatige patroon waarin iemand hulself voortdurend as ’n slagoffer van ander mense of omstandighede sien – selfs wanneer daar geen werklike onreg of skade is nie. Dit kan ’n chroniese lewenshouding word wat mense in ’n kringloop van hulpeloosheid, wrok en selfbeperking hou.
‘n Donkie kies nie die las wat hy moet dra nie. Jy is nie ‘n donkie nie!
Om verwyte te laat gaan, is nie om onreg goed te praat nie. Dit is om jou eie mag terug te neem. Dit is om in te sien dat vergifnis en vrede nie afhang van ander mense se dade of verskonings nie, maar van jou eie bereidwilligheid om nie die verlede jou toekoms te laat definieer nie.
Vryheid begin waar eienaarskap vir die skryf van jou eie storie aanvaar word. Die vraag bly: gaan jy vasgevang bly in verwyte, of vorentoe beweeg in hoop en outoriteit oor jou eie lewe? Want uiteindelik is daar net een ding wat jy werklik kan beheer: jouself. En dit is waar vrede gevind kan word.