“Gee my vandag my daaglikse ladybug”


‘n Paar jaar gelede het dinge rof gegaan, en ek het heeltyd gevoel ek jaag rond en sien God nêrens nie en ervaar ook nie Sy nabyheid nie. Ek het toe vir ‘n teken gevra, iets wat my op lukrake tye van die dag sal herinner dat God naby is. Dit moes iets spesifiek wees – nie soos ‘n wit kar nie, dit is te algemeen. Ook nie iets soos ‘n Witkruisarend wat mens amper nooit sien nie. En so het dit gebeur dat ek, en ek wil sê, God sáám besluit het op twee tekens: ‘n ladybug  en ‘n Daihatsu Cuore. My ma het so een gery. Ek mis haar.

Of dit gereformeerd is om tekens te vra, en of daar in die kategismus iets daaroor staan, weet ek eerlik nie. Jy sal dalk dink dit is bietjie belaglik om vir tekens te vra. Jy dink dalk ek probeer God in ‘n hoek druk deur tekens te vra… Hoe dit ook al sy, ek vra vir tekens. Gaan lees bietjie Rigters 6:36-40, waar Gideon twee nagte na mekaar vir tekens vra as bevestiging van wat God belowe het. Ek vat sommer juis dít as ‘n TEKEN dat ek vir tekens mag vra…

Nou gebeur dit gereeld, of ek vra of nie, dat ek een van dié twee tekens teëkom. Byvoorbeeld, in ons kerk het een van die ladybugs nes gemaak by die deur, en dus het ek sonder twyfel geweet God is daar in ons kerk teenwoordig.

Eendag was ek saam met ‘n vriendin op ‘n wynplaas, en toe ek badkamer toe gaan, loop daar een op die wasbak rond. Ook in die lekker kuier-oomblike herinner Hy my dat Hy daar is. Nou die dag, toe ek na my kar toe loop, sit daar een net so onder my kar se naam, en ek sê nog so half terloops: “Dankie, Here, vir die herinnering.” Ek het in my kar geklim en na ‘n plek gery waar ek ‘n baie slegte ervaring gehad het. Terugskouend kan ek sê dat die ladybug my herinner het dat God daar sal wees, en dat Hy saam met my was toe die slegte ding gebeur het – al het ek Hom nie gevra nie, want ek het nie geweet wat kom nie, maar Hy het.

Met ‘n baie seer hart en ‘n natgehuilde gesig ry ek van die veearts af weg, en om die eerste draai by ‘n sirkel ry daar ‘n silwer Cuore voor my.

Dikwels, as ek worstel met iets of sommer net ‘n moeilike dag het, sien ek ‘n Cuore op die pad. Nooit sommer-net nie, maar juis as daar iets in my hart of lewe gebeur en ek ver van God af voel. Dan is daar die tye wanneer ek pertinent vir God vra om asseblief by my te wees, en dan gebruik Hy dikwels een van die twee om my te wys dat Hy daar is, op ‘n manier wat ek menslik en sintuiglik kan waarneem. By ‘n moeilike vergadering, loop die ladybug oor die tafel op ‘n stormagtige wintersaand.

Gister was aaklig. Ek moes die eerste hondjie wat ons gekry het, op die ouderdom van 15 jaar laat uitsit. Ek het die oggend gesit en huil en net vir God gesê: “Here, hierdie is té seer, asseblief wees by my.” Dit het toe deur my gedagtes gegaan dat ek maande laas ‘n Cuore gesien het, en dat dit nogal iets is wat ek vandag móét sien, maar ek het nie pertinent vir God gevra nie. Met ‘n baie seer hart en ‘n natgehuilde gesig ry ek van die veearts af weg, en om die eerste draai by ‘n sirkel ry daar ‘n silwer Cuore voor my. En God gee vir my die teken om my te herinner dat ook in my seerste oomblik, waar ek alleen voel, Hy by my is.

My aandag, en dalk joune ook, word so maklik deur die alledaagse dinge gevul dat dit ons aandag van God af weglei. Hierdie tekens is vir my God se manier om my op die skouer te tik en te herinner dat Hy daar is wanneer ek vra, wanneer ek nie vra nie, wanneer ek lekker dinge doen, en wanneer ek deur moeilike tye gaan. Hy is ALTYD daar.

So ek vra vir tekens, en ek dink God glimlag soms maar net vir my kleingelowigheid en wantroue – vir my menslikheid, seker. Maar Hy daag elke keer op. Hy vat nie altyd die pyn sommer net weg nie; die moeilike dinge gebeur nog steeds. Maar ek soek Hom om elke hoek en draai… En ek weet ek sal Hom kry, want Hy kry mý!


Lees soortgelyk

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

Wil God of wil Hy nie?

Is God se wil iets om te verstaan… of iets om te vertrou? Want soms, ten spyte van seer en vrae, sê die hart…

DeurDJ MullerMay 9, 2025

Pantoffels vir die preekstoel

Met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm…

DeurNadia MullerApr 15, 2025