Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin dit op Sondag 4 Januarie en duur vir 21 dae. Die idee is eenvoudig: om te eet soos Daniël geëet het in Daniël 10, basies groente en vrugte, sonder verwerkte kos of diereprodukte.
Op die oog af kan dit maklik klink soos ’n manier om gewig te verloor, te “detox”, of net weer beheer oor kos te kry, maar as dit al is waarvoor jy dit doen, mis jy eintlik die hart van die vas heeltemal. Die Daniël-vas gaan nie in die eerste plek oor die liggaam nie – dit gaan oor die hart.
As ons Daniël se verhaal lees, sien ons sy motivering baie duidelik. In Daniël 10:12 sê die engel vir hom:
“Moenie bang wees nie, Daniël, want vanaf die eerste dag wat jy jou hart daarop gerig het om insig te kry en jou voor jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor. Ek het gekom op grond van jou woorde.”
Daniël se hart was daarop gerig om insig by God te kry oor dit waardeur hy en die volk gegaan het. Dit is ook hoekom ek hierdie vas doen, om insig by God te kry. Vir my is dit ’n manier om my jaar af te skop met ’n hart en gedagtes wat doelbewus op God gerig is – oop vir waar Hy reeds besig is in my lewe, en nie net op soek na God waar ék Hom wil sien nie.
Hierdie jaar het ek die voorreg om dit saam met my sussie te doen. Al bly ons nie eens in dieselfde dorp nie, help dit ongelooflik om te weet iemand anders is saam op dieselfde pad. Wanneer dit moeilik raak, of wanneer jy eenvoudig uit ete-idees hardloop, help dit om te kan gesels en deel. Die doel is immers nie om jouself te straf of jou eie uithouvermoë te toets nie. Die doel is om die verslawing wat kos dikwels is, en die tyd en energie wat dit in beslag neem, te vervang met tyd en gesprek met God.
Hoekom dan 21 dae?
Ek weet nie of Daniël self tegnies daaroor gedink het nie, maar in die mediese wêreld het die sogenaamde “21-dae-reël” sy oorsprong by Dr. Maxwell Maltz, ’n plastiese chirurg wat in 1960 die boek Psycho-Cybernetics geskryf het. Hy het opgemerk dat sy pasiënte ongeveer 21 dae geneem het om aan groot veranderinge in hulle liggame aan te pas.
Mettertyd is dit egter uit verband geruk, en baie mense het begin sê dit vat net 21 dae om ’n gewoonte aan te leer of af te leer, wat eenvoudig nie waar is nie. Dit vat meestal baie langer, maar 21 dae ís lank genoeg om iets nuuts te begin en terselfdertyd kort genoeg om haalbaar te voel. Drie weke klink na ‘n groot uitdaging, maar binne die groter prentjie is dit min, korter as die skole se wintervakansie.
Die realiteit is dat jy nie ná 21 dae skielik vir altyd makliker minder gaan eet of altyd maklik tyd saam met God gaan inrig nie, maar dit vat minstens so lank vir jou liggaam en ritme om te besef: hier is iets nuuts aan die gang en dalk, net dalk, is daar ná 21 dae dinge wat God subtiel op jou hart gedruk het om anders te doen.
Natuurlik is dit nie maklik nie en dit is ook nie iets wat jy moet aanpak met die verwagting dat jy nooit gaan faal nie. Die kans is goed dat jy iewers gaan struikel, maar dit is juis in daardie oomblikke belangrik om te onthou: jy kan weer begin, met die volgende ete. God trek Hom nie van jou af terug omdat jy nie so “suksesvol” was soos wat jy gehoop het nie. Hy bly teenwoordig.
As jy dit ooit oorweeg om die Daniël-vas saam te doen, is daar ’n paar praktiese dinge wat dit baie makliker maak, veral as jy die enigste een in jou huis is wat dit doen:
- Beplanning help. Maak etes vooruit, sodat kos nie nóg ’n bron van spanning word nie. Ironies genoeg is die idee juis dat kos minder tyd en energie moet opneem, nie meer nie.
- Werk met ’n plan, maar nie een waar jy God probeer stuur of manipuleer nie. Eerder ’n plan wat jou help om gedissiplineerd by God uit te kom, en oop te wees vir wat Hy wil wys. Kry ’n leesplan, of kies ’n teks wat jy stadig deurwerk. Iets soos Psalm 25, waar jy elke dag net een vers kan lees en oordink.
- Deel met mense wat naby aan jou is waarmee jy besig is, sodat hulle jou kan ondersteun wanneer dit moeilik raak.
Die Daniël-vas is nie iets om oor te spog nie. Dit is ’n diep persoonlike keuse, ’n uitnodiging tot groter intimiteit met God.
Dit is ook belangrik om te sê: vas is nie ’n geloofsgewoonte wat vir almal werk nie. Soms weens mediese redes, soms bloot weens persoonlikheid of lewensomstandighede en dit is ook heeltemal okay.
Soos jy seker kan hoor, is ek passievol oor die Daniël-vas, nie omdat dit altyd maklik is nie, maar omdat dit oor die jare al soveel vir my beteken het. Tye waar ek verras is deur God. Tye waar ek geworstel het en Hy my die pad gewys het. Tye waar Hy eenvoudig net bevestig het: “Ek is hier”.
Hier is ’n uitnodiging. As jy lus is om dit in 2026 saam met my te doen, laat weet my. Ek deel graag wat ek oor die jare geleer het, saam met al die praktiese inligting wat ek bymekaar gemaak het. Ek het vir myself ’n lysie gemaak van dinge wat ek kan doen as ek wil opgee, asook idees vir die week voor die vas, ete-idees en ’n eenvoudige menu. As jy dit graag wil hê, deel ek dit met liefde.
Dalk ontdek jy ook opnuut hoe lief God jou het, en hoe teenwoordig Hy in jou lewe is.
As jy nie wil deelneem nie, is daar steeds ’n uitnodiging: bid asseblief almal wat wel in 2026 die vas doen – dat ons dit nie vir onsself sal doen nie, maar dat ons God werklik sal ontmoet in hierdie 21 dae.





























