Ek wens soms ek het anders gebid

Ons jongste is nou al twee dae siek. Niks ernstig nie – net ’n verkoue – maar vanaand met slaaptyd was haar neus erg toe, haar stemmetjie het gekraak van die seer keel, en toe ek vra hoe sy voel, het sy met ’n klein stemmetjie gesê: “Ek voel net nie lekker nie.”

Soos altyd het ons deur ons slaaptydroetine gegaan, en toe ons by die gebed kom, het ek saam met haar gebid dat Jesus haar gesond sal maak. Maar nou, ure later in my eie bed, wonder ek oor die wysheid van daardie gebed.

Ek wéét God kan wonderwerke doen. Ek sien dit elke dag – in die sonsopkoms, in ’n baba wat gebore word, in my kinders, in my huwelik. Ek herinner myself daaraan, selfs wanneer ek moeg of moedeloos is. Maar dis nie die punt nie.

Dis nie dat ek nie my dogtertjie wil leer dat sy God alles mag vra nie. Sy móét glo in ’n God wat die onmoontlike kan doen. Maar ek kan nie help om te wonder of dit nie dalk eerder ’n geleentheid was om haar te leer van God se teenwoordigheid juis in haar siek wees nie.

Wat as ek haar leer dat God dáár is – selfs in iets so klein en ongemaklik soos ’n verkoue? Dat Hy wéét hoe dit voel? Dan mag sy eendag ook glo dat Hy naby is wanneer groter seer oor haar lewe kom.

Ek doen tans ’n kursus in Spirituele Begeleiding – Spiritual Accompaniment, as jy dit mooi Engels wil stel. Min mense verstaan presies wat dit behels, al probeer ek dit verduidelik. Maar vanaand het ek opnuut besef wat ek vir myself én my kinders wil leer:

God is met ons in alles.

“If we are absolutely grounded in the absolute love of God that protects us from nothing even as it sustains us in all things, then we can face all things with courage and tenderness, and touch the hurting places in others and in ourselves with love.”– James Finley

Vanaand het ek daardie geleentheid gemis. Ek het vir my kind ’n verwronge prentjie van God geskets – een van ’n God met ’n towenaarsstaf wat die slegte dinge moet wegvat. Ek het nié vir haar geleer dat God ín haar is nie. Dat Hy presies weet hoe sy voel. Dat Hy nie wil hê sy moet siek wees nie. En dat sy dalk môre nie beter gaan voel nie – nie omdat God nie wonderwerke doen nie, maar omdat Hy ’n God van verhouding is. ’n God wat teenwoordig is. Nie een wat net opgeroep word as ons loopneuse of seer knieë het nie.

’n Gebed wat bloot vir Hom vertel het dat sy nie lekker voel nie, en graag beter wil voel, sou haar dalk nader aan Hom gebring het as ’n versoek om genesing. Dan sou sy dalk begin verstaan het dat ’n verhouding met God beteken dat ons Hom in álles raaksien.

“To see God in all things” – dít is immers die kern van die Ignatius model vir Spirituele Begeleiding.

Ek onthou nog hoe ek by my ma se hospitaalbed net nie kon bid dat God haar moet genees nie. En ná haar dood, toe ek self in ’n donker plek van depressie was, het ek skuldgevoelens gehad oor my sogenaamde gebrek aan geloof – omdat ek nie vir die onmoontlike gevra het nie.

Maar nou, jare later – ná baie meer seer en verlies, my eie én ander s’n – weet ek:
Dit was nie verkeerd nie.

Ek het nie gebid vir genesing nie – nie omdat ek nie geglo het God kán haar red nie, maar omdat ek op ’n diep vlak geweet het sekere prosesse moet verloop. Soos ’n verkoue wat 14 dae met antibiotika vat – of twee weke sonder.

God is dáár, in die op en af van elke proses. Ek wil glo in ’n God teenoor wie ek my woede kan uitspreek – dat Hy my ma nie gered het nie – en in dieselfde asem glo in ’n God wat binne-in my is. Een wat saam met my seer het. Wat weet hoe ek voel.

God gaan nie môre my kind se verkoue net wegvat omdat dit sleg is nie. Maar Hy ís saam met haar in haar lyfie. Hy beleef dit saam met haar. Hy hou haar vas en koester haar – nie net wanneer sy gesond is nie, maar juis nou.

Ek is al ’n ent op my pad na ’n ander soort verhouding met God – een van vertroue en liefde. Ek dink nie meer oor Hom soos toe ek jonger was nie. En tog – vanaand – sluip daardie kindertydse beeld van ’n God van wonders weer in my gebed in.

Môre, as my dogtertjie nog siek is, gaan sy vra: “Maar hoekom het Jesus my nie gesond gemaak nie?” En dan mag sy teleurgesteld wees. Of kwaad. Of hoop verloor. As ek haar eerder gehelp het om God se teenwoordigheid te ontdek, sou ek haar dalk daardie teleurstelling gespaar het.

Nie omdat ek nie glo in ’n God van wonderwerke nie,
maar omdat ek glo in ’n God wat altyd opdaag
vir haar op haar mooiste en gesondste,
maar ook op haar siekste en swakste.

Daarom moet ek vanaand bid:

Here, vergewe my die toutrek met my Godsbeelde.
Hoor my hart – ek wéét U is oral.
Hoor ook my mamma-hart, wat my kind van alle seer, selfs ’n verkoue, wil red.
Help my verstaan dat dit nie is hoe dit werk nie.
Maar dat dit juis ’n verhouding met U verdiep
as ons leer dat U altyd dáár is – eerder as om ons hoop te plaas op ’n God
wat al die sleg uit ons lewens moet verwyder.

Om siek te wees is sleg.
Om seer te hê en verlies te ervaar is aaklig.
Maar om ’n God te hê wat net inkom om die dag te “red” –
dís die ergste.


Lees soortgelyk

Daniël-vas: “Seën ons Vader – wat ons eet en wanneer ons nié eet”

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin voorberei om saam met mense wêreldwyd die Daniël-vas te doen. Hierdie jaar begin…

DeurNadia MullerDec 31, 2025

“I see you. It’s okay. I forgive you.”

Ons gesels gereeld oor hoe dit lyk aan die gee-kant van vergifnis, maar hierdie ervaring help mens om iets te verstaan van die ontvang-kant:…

DeurDJ MullerJul 30, 2025

Appels, Braambessies en Geloofsonderskeiding

Baie van ons keuses is nie tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Geloofsonderskeiding is om te weet: God kies nie…

DeurNadia MullerJul 7, 2025

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

Wil God of wil Hy nie?

Is God se wil iets om te verstaan… of iets om te vertrou? Want soms, ten spyte van seer en vrae, sê die hart…

DeurDJ MullerMay 9, 2025

Pantoffels vir die preekstoel

Met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm…

DeurNadia MullerApr 15, 2025

Die “Jesus-bolt”: Méér as net ‘n redder in lugvaart

In Lydenstyd dink ons aan Jesus se kruis en opstanding – die kern van ons geloof. Maar wat gebeur as daardie kern verdwyn? Soos…

DeurDJ MullerApr 15, 2025

𝐆𝐞𝐥𝐨𝐨𝐟, 𝐣𝐨𝐞𝐫𝐧𝐚𝐥𝐢𝐬𝐭𝐢𝐞𝐤 𝐞𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐨𝐧𝐡𝐞𝐢𝐥𝐢𝐠𝐞 𝐬𝐨𝐬𝐢𝐚𝐥𝐞 𝐦𝐞𝐝𝐢𝐚-𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐠

In ’n wêreld waar waarheid en sensasie deur mekaar loop, roep geloof ons tot verantwoordelike onderskeiding op sosiale media. Hierdie rubriek verken ons rol…

DeurDJ MullerMar 31, 2025

Beloftes van lig – Sleepvoet deur die Kalahari-sand

In die diep donkerte van die Kalahari voel elke stap deur sagte sand soos drie. Maar soms is al wat jy nodig het net…

DeurDJ MullerMar 21, 2025

Burgerskap: Wanneer stof van die hemel aan jou vellies klou

Jy dra jou burgerskap sigbaar, hoorbaar, leefbaar. Dit bepaal hoe jy leef, ander behandel, praat en dink. Paulus herinner ons: Jy is eerste burger…

DeurDJ MullerMar 21, 2025

Die Antwoord op “hoekom” lê in “Wie”

Wanneer die lewe breek en die hoekom?-vrae jou hart deurboor, bly die kruis staan—maar dit is leeg. Daar is seer, maar daar is ook…

DeurNadia MullerMar 19, 2025

Elke hart het ‘n letsel of ‘n rolstoel

Ons almal dra letsels—sommige sigbaar, ander diep versteek in ons harte. Maar net omdat ’n wond nie gesien kan word nie, beteken dit nie…

DeurNadia MullerMar 3, 2025

NUUT: Bybelstudie Sprints – kort, kragtige studies vir jou geloofsreis

Ontdek Bybelstudie Sprints! Kort, kragtige studies van 2 tot 5 sessies vir individue of groepe. Die eerste twee temas – Sabbat en Vergifnis -…

DeurDJ MullerJan 31, 2025

“Ek wil ook gedoop word”

“Ek wil ook gedoop word”, sê klein Emma (6) ‘n paar weke gelede vir haar mamma. Hierdie doop word toe “a glimpse of the…

DeurDJ MullerJan 22, 2025

Wees hiervan seker in 2025!

2025 beloof seisoene van vreugde en stryd, maar een ding bly seker: God is teenwoordig in elke oomblik. Omhels elke seisoen, want selfs in…

DeurDJ MullerJan 1, 2025

Liefde het ‘n lyf nodig

Ware liefde is nooit net ’n abstrakte idee nie; dit het ’n lyf nodig. Jesus se menswording wys hoe liefde tasbaar raak deur teenwoordigheid.

DeurDJ MullerDec 23, 2024

“Ligvoet op Sondae” – Waar is ons vreugde?

’n Karwag het gesê Sondae oggende is die moeilikste, want kerkmense is nors, suinig en ongeskik. Wat sê dit oor ons vreugde en getuienis…

DeurDJ MullerDec 11, 2024

U welkom matjie

ons het al talle kere lekker saam aan U tafel geëet terwyl die bure buite raas hier was dit nog altyd stil en salig…

DeurDJ MullerNov 21, 2024

“Uit voorraad”

Hierdie stuk poësie verwoord iets van die hartseer oor wat die kerk vir baie geword het.

DeurDJ MullerOct 30, 2024

Soms moet ek doelbewus opkyk

As jy jouself vang dat jou hart donker of swaar is, stop ’n oomblik: Kyk op en soek Hom wat vir jou lewe gee.

DeurNadia MullerSep 26, 2024

“Gee my vandag my daaglikse ladybug”

God gebruik klein tekens, soos ’n ladybug, om my aan Sy nabyheid te herinner in elke oomblik, deur vreugde en pyn, as ’n fluistering…

DeurNadia MullerAug 27, 2024

Kitaar van Geloof: Hoe ons saamklink

Ontdek hoe God, jou unieke rol en die kerk saamwerk soos snare op ‘n kitaar om harmonie in die wêreld te skep. Die kerk…

DeurDJ MullerAug 24, 2024

Die pyn tussen my en Jesus

“𝐈𝐬 𝐝𝐢𝐭 𝐦𝐨𝐨𝐧𝐭𝐥𝐢𝐤 𝐝𝐚𝐭 𝐞𝐤 𝐢𝐧 𝐝𝐚𝐚𝐫𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐞𝐞𝐫𝐤𝐫𝐲 𝐨𝐨𝐦𝐛𝐥𝐢𝐤 𝐧𝐢𝐞 𝐦𝐲 𝐞𝐢𝐞 𝐧𝐢𝐞, 𝐦𝐚𝐚𝐫 𝐉𝐞𝐬𝐮𝐬 𝐬𝐞 𝐩𝐲𝐧 𝐞𝐫𝐯𝐚𝐚𝐫 𝐡𝐞𝐭?” Het jy al ooit by…

DeurNadia MullerAug 23, 2024

Ses Preke Later: Jesus se roepstem by my put

Ek wou regtig nie wéér Sondag oor Johannes 4 preek, oor Jesus wat die Samaritaanse vrou by die put ontmoet nie, maar God het…

DeurNadia MullerAug 23, 2024