Ons jongste is nou al twee dae siek. Niks ernstig nie – net ’n verkoue – maar vanaand met slaaptyd was haar neus erg toe, haar stemmetjie het gekraak van die seer keel, en toe ek vra hoe sy voel, het sy met ’n klein stemmetjie gesê: “Ek voel net nie lekker nie.”
Soos altyd het ons deur ons slaaptydroetine gegaan, en toe ons by die gebed kom, het ek saam met haar gebid dat Jesus haar gesond sal maak. Maar nou, ure later in my eie bed, wonder ek oor die wysheid van daardie gebed.
Ek wéét God kan wonderwerke doen. Ek sien dit elke dag – in die sonsopkoms, in ’n baba wat gebore word, in my kinders, in my huwelik. Ek herinner myself daaraan, selfs wanneer ek moeg of moedeloos is. Maar dis nie die punt nie.
Dis nie dat ek nie my dogtertjie wil leer dat sy God alles mag vra nie. Sy móét glo in ’n God wat die onmoontlike kan doen. Maar ek kan nie help om te wonder of dit nie dalk eerder ’n geleentheid was om haar te leer van God se teenwoordigheid juis in haar siek wees nie.
Wat as ek haar leer dat God dáár is – selfs in iets so klein en ongemaklik soos ’n verkoue? Dat Hy wéét hoe dit voel? Dan mag sy eendag ook glo dat Hy naby is wanneer groter seer oor haar lewe kom.
Ek doen tans ’n kursus in Spirituele Begeleiding – Spiritual Accompaniment, as jy dit mooi Engels wil stel. Min mense verstaan presies wat dit behels, al probeer ek dit verduidelik. Maar vanaand het ek opnuut besef wat ek vir myself én my kinders wil leer:
God is met ons in alles.
“If we are absolutely grounded in the absolute love of God that protects us from nothing even as it sustains us in all things, then we can face all things with courage and tenderness, and touch the hurting places in others and in ourselves with love.”– James Finley
Vanaand het ek daardie geleentheid gemis. Ek het vir my kind ’n verwronge prentjie van God geskets – een van ’n God met ’n towenaarsstaf wat die slegte dinge moet wegvat. Ek het nié vir haar geleer dat God ín haar is nie. Dat Hy presies weet hoe sy voel. Dat Hy nie wil hê sy moet siek wees nie. En dat sy dalk môre nie beter gaan voel nie – nie omdat God nie wonderwerke doen nie, maar omdat Hy ’n God van verhouding is. ’n God wat teenwoordig is. Nie een wat net opgeroep word as ons loopneuse of seer knieë het nie.
’n Gebed wat bloot vir Hom vertel het dat sy nie lekker voel nie, en graag beter wil voel, sou haar dalk nader aan Hom gebring het as ’n versoek om genesing. Dan sou sy dalk begin verstaan het dat ’n verhouding met God beteken dat ons Hom in álles raaksien.
“To see God in all things” – dít is immers die kern van die Ignatius model vir Spirituele Begeleiding.
Ek onthou nog hoe ek by my ma se hospitaalbed net nie kon bid dat God haar moet genees nie. En ná haar dood, toe ek self in ’n donker plek van depressie was, het ek skuldgevoelens gehad oor my sogenaamde gebrek aan geloof – omdat ek nie vir die onmoontlike gevra het nie.
Maar nou, jare later – ná baie meer seer en verlies, my eie én ander s’n – weet ek:
Dit was nie verkeerd nie.
Ek het nie gebid vir genesing nie – nie omdat ek nie geglo het God kán haar red nie, maar omdat ek op ’n diep vlak geweet het sekere prosesse moet verloop. Soos ’n verkoue wat 14 dae met antibiotika vat – of twee weke sonder.
God is dáár, in die op en af van elke proses. Ek wil glo in ’n God teenoor wie ek my woede kan uitspreek – dat Hy my ma nie gered het nie – en in dieselfde asem glo in ’n God wat binne-in my is. Een wat saam met my seer het. Wat weet hoe ek voel.
God gaan nie môre my kind se verkoue net wegvat omdat dit sleg is nie. Maar Hy ís saam met haar in haar lyfie. Hy beleef dit saam met haar. Hy hou haar vas en koester haar – nie net wanneer sy gesond is nie, maar juis nou.
Ek is al ’n ent op my pad na ’n ander soort verhouding met God – een van vertroue en liefde. Ek dink nie meer oor Hom soos toe ek jonger was nie. En tog – vanaand – sluip daardie kindertydse beeld van ’n God van wonders weer in my gebed in.
Môre, as my dogtertjie nog siek is, gaan sy vra: “Maar hoekom het Jesus my nie gesond gemaak nie?” En dan mag sy teleurgesteld wees. Of kwaad. Of hoop verloor. As ek haar eerder gehelp het om God se teenwoordigheid te ontdek, sou ek haar dalk daardie teleurstelling gespaar het.
Nie omdat ek nie glo in ’n God van wonderwerke nie,
maar omdat ek glo in ’n God wat altyd opdaag –
vir haar op haar mooiste en gesondste,
maar ook op haar siekste en swakste.
Daarom moet ek vanaand bid:
Here, vergewe my die toutrek met my Godsbeelde.
Hoor my hart – ek wéét U is oral.
Hoor ook my mamma-hart, wat my kind van alle seer, selfs ’n verkoue, wil red.
Help my verstaan dat dit nie is hoe dit werk nie.
Maar dat dit juis ’n verhouding met U verdiep
as ons leer dat U altyd dáár is – eerder as om ons hoop te plaas op ’n God
wat al die sleg uit ons lewens moet verwyder.
Om siek te wees is sleg.
Om seer te hê en verlies te ervaar is aaklig.
Maar om ’n God te hê wat net inkom om die dag te “red” –
dís die ergste.





























