Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

Voor ek begin… JY het dié lelike woord in die titel, met al sy letters hardop in jou kop gesê sonder die sterretjie – daardie een is op jóú rekening! Spaar my ook die storie van “sulke taalgebruik wat uit ‘n dominee se mond kom…”. Bear with me… Hierdie woord is nodig!

Rondom 2010 sit ek saam met drie ander dominees in ‘n gebedskamer, êrens in die Moot. Een van hulle is oom Dirk. Sy hare is wit-grys, hy dra kruisbande, praat met ‘n bulderende stem as hy opgewonde raak, rol sy R’e ekstra en oorrond die meeste vokale. “Dirk van Zyl – Seniorbediening” lees die kerkkalender se agterblad. Die gebedskamer het ‘n paar stoele wat in ‘n kring gepak is. “Kom ons gesels vanoggend bietjie oor genade. Wat is genade?” Elkeen van ons deel hoe ons dink oor genade. Ek was nog ‘n teologiestudent in daardie tyd, so met my antwoord probeer ek darem te kenne gee dat ek ook so bietjie van die jargon opgetel het. Toe dit oom Dirk se beurt is, sê hy, dié keer met ‘n sagter stem: “Genade is dat die Here f*kops liefhet.” Oom Dirk was nie skaam nie, so hy het ook nie met sterretjies gepraat nie. Hierdie definisie bly my tot vandag toe by. Ek het al probeer om genade beter te omskryf, maar niks kom by die eenvoudige rykdom van oom Dirk s’n nie. Is dit die wysheid wat met die grysheid kom? Dit is vir seker nie boekkennis wat jou só laat praat nie. Ek dink eerder dit is lewenservaring. En dit vat iemand wat brutaal eerlik oor hulself kan dink en praat om hierdie opregte wysheid tydens ‘n gewyde saamwees in ‘n gebedskamer te deel. F*kop. Geen ander woord in die Afrikaanse taal vat die menslike kondisie wat smag na genade beter saam as dié woord nie.

Ek was bitter lief vir oom Dirk. Deesdae besef ek dat ek lief is vir talle oom Dirk’e daar buite – mense wat eerlik en broos leef as f*kops! Ek is ook een. Die interessante ding wat ek deesdae waarneem, is dat ek makliker connect met mense wat eerlik is hieroor. Eerlik oor hul foute, seer, trauma en tekortkominge. Ja, mense wat tevrede is daarmee om f*kops te wees.

Hoekom?

Wat is dit aan die Dirk’e rondom my wat my so maklik na hulle toe aantrek? Hoekom is die wyn altyd te min en raak die kos so vinnig koud as ek saam met sulke mense kuier?

Geen leer om te klim


Mense wat as self-erkende f*kops leef, staan nie op die leer van status, sukses of shine nie – hulle sit eerder langs jou op die grond, met ‘n koppie koffie en ‘n storie wat nie blink gepoets is nie.

Leon Festinger het in die 1950’s al gesê dat ons onsself verstaan deur onsself met ander te vergelyk. Dit is amper soos om in ‘n spieël te kyk – maar die spieël is ander mense. En as daardie mense net hul beste kante wys, begin jy voel jy is nie goed genoeg nie. Maar wanneer iemand hul letsels wys, hul foute erken, en sê “ek sukkel ook”, dan sien jy jouself in hulle – en jy voel minder alleen.

Ek het al baie mense ontmoet wat alles reg doen – hul CV’s is indrukwekkend, hul Instagram-feeds is perfek, hul kinders dra altyd skoene.

Brené Brown praat van broosheid – daardie moed om jouself te wys, sonder waarborge. Sy sê dit is die sleutel tot ware konneksie. En ek sien dit: mense wat hul broosheid wys, skep ruimte vir ander om ook hul maskers af te haal.

‘n Afhanklikheidsbelydenis


Om genade te ontvang is een ding. Om daaruit te leef, is iets anders. Dit is maklik om genade as ‘n teologiese konsep te verstaan – iets wat jy hoor in preke, lees in boeke, of sing in liedere. Maar om dit te beliggaam, om dit die bedding te maak waarin jy leef, vra iets meer. Dit vra dat jy jou eie gebrokenheid eerlik in die oë kyk. Want jy kan nie die volheid van genade waardeer as jy nie die diepte van jou eie behoefte daaraan besef nie.

Dit is hoekom ek sê: mense wat hul eie stukkend-wees erken, is dikwels die mense wat die meeste genade ervaar, of ten minste daarvan bewus is. Hulle weet hoe dit voel om nie genoeg te wees nie. Hulle weet hoe dit voel om te faal, om te sukkel, om te bid sonder woorde. En juis daarom is hulle sagter met ander.

Om uit genade te leef beteken jy kyk anders na mense. Jy sien nie net hul gedrag nie – jy sien hul storie. Jy sien die pyn agter die woede, die verlange agter die trots, die seer agter die stilte. Jy begin verstaan dat mense nie altyd hul beste self wys nie, nie omdat hulle nie wil nie, maar omdat hulle nie altyd kan nie.

Genade maak jou stadig. Stadig om kwaad te word. Stadig om te oordeel. Stadig om jouself bo ander te plaas. Maar dit maak jou ook vinnig – vinnig om te vergewe. Vinnig om te help. Vinnig om te sê: “Ek verstaan. Ek is ook daar.”

En dalk is dit die grootste vrug van genade: dit maak jou menslik. Nie net in jou eie oë nie, maar ook in ander s’n. Jy hoef nie meer te klim nie. Jy hoef nie te bewys jy is reg of sterk of heilig nie. Jy mag eenvoudig wees – en ander mag ook.

Dirk’e arriveer nie sommer nie


Jy kan nie saam met iemand reis wat glo hulle het reeds gearriveer nie. Kom ons wees eerlik: ons hou daarvan om te vertel van ons “arrivals”. “Ek het die kontrak van ‘n leeftyd losgeslaan.” “Ons skuld is afbetaal.” “Ek leef sorgvry – geen issues, no regrets.” Hierdie is almal eindbestemmings. Hulle klink amper soos geestelike CV’s – asof daar niks meer is om te leer, te groei of te ontvang nie. Maar as jy nie meer redding nodig het nie, waarvoor is daar dan nog genade?

Ons het nie net redding nodig vir die dag wanneer ons die emmer skop nie. Ons het dit nodig vir môre se onsekerheid, vir vanaand se angs, vir gister se skuld. F*kops is nog op pad en hulle weet: “ek sal nooit arriveer nie”. Daarom is hulle die ideale reisgenote deur die lewe, want hulle beweeg nog (en sal altyd beweeg).

Saam met oom Dirk verklaar ek dat ek ook maar ‘n f*kop is, en as ek kon kies, sou ek dit glad nie anders wou hê nie. Of hoe Paulus?


Lees soortgelyk

Lonely. No fun – With wings

’n Lekker ironiese koffiebestelling herinner my: selfs in die woestyn van onsekerheid en swaarkry het God jou nie vergeet nie — jy het nog…

DeurNadia MullerJun 26, 2025

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

’n R1-les in dankbaarheid

’n R1 mag vir jou niks beteken nie, maar vir ’n honger kind beteken dit ’n bord kos met smaak – en ’n droom…

DeurNadia MullerMay 16, 2025