Ek sit in die skoolhoof se kantoor van Simondium Laerskool. Sy is laat – die verkeer is erg. Niemand is ongeduldig nie, want almal verstaan: die padwerke maak dit feitlik onmoontlik om betyds te wees.
Terwyl ek wag, is daar ’n gestoei van oggendaktiwiteite om my. Dit is die begin van die skooldag. Onderwysers en kinders kom haal klaskamersleutels, ’n jong seuntjie wag saam met sy ma vir die onderhoof, en die kantoor gons met ouers, versoeke en oggendgroete. En tog, ten spyte van die gewoel, ervaar ek vrede – en liefde.
Elke leerder en onderwyser wat by my verbystap, kyk my in die oë en groet vriendelik. Daar is warmte in die manier waarop die onderwysers mekaar en die kinders aanspreek. Hulle noem elke kind op hul naam, praat met respek én sagtheid – en kry dieselfde terug. Dis iets wat ek nie eers altyd in welaf skole beleef nie.
Simondium Laerskool is ’n groterige plaasskool. Finansieel gaan dit moeilik – min ouers kan skoolfonds bekostig, en wat die staat voorsien, is eenvoudig nie genoeg nie. Ek is juis vandag hier om te hoor waarmee ons as gemeente kan help.
Nadat die kinders in hul klasse is, kom ’n meneer met twee dogtertjies die kantoor binne. Ek skat hulle is so elf jaar oud. Hulle gaan staan voor die interkom. Die meneer verduidelik dat hulle die dag vir die skool gaan begin deur die “Onse Vader” in Xhosa op te sê. Hy gee hulle eers die geleentheid om hulself voor te stel, en dan begin hulle – in ritme, saam – met die gebed.
Ek verstaan nie ’n woord nie, behalwe die “Amen” aan die einde. Maar dis genoeg, want ek ken die Onse Vader. En daardie twee stemmetjies het ’n heilige oomblik geskep. Ek het geweet: God is hier. In elke klaskamer. Want Hy verstaan gelukkig Xhosa.
Maar wat my diep geraak het, was wat die meneer ná die gebed aangekondig het:
“’n Leerder gaan nou by al die klasse verbygaan om die vrywillige R1 per kind in te samel – vir die aankoop van speserye om die kos ’n bietjie lekkerder te maak.”
Ek vra later vir die skoolhoof uit oor hierdie versoek. Sy verduidelik: Elke oggend kry die kinders pap. Teen 11-uur is daar ’n warm ete. Die staat voorsien die kos, maar sonder sout, suiker of speserye. En sy glo: kinders moet nie net kos kry nie – hulle moet lekker eet. Vir baie van hierdie kinders is dit die enigste ete van die dag. Skoolbywoning is uitstekend, want die kinders is honger.
’n R1. Wat koop ’n mens vandag daarvoor? Byna niks. En tog – vir sommige huishoudings is selfs dit ’n te groot opoffering.
Ek dink aan my eie kombuiskas. ’n Hele rak vol speserye en geurmiddels. Want pap sonder sout is regtig sleg.
Maar dit gaan nie oor skuldgevoel nie. Dit gaan nie oor jammer kry nie. En dit gaan nie oor “gee meer en eet minder” nie. Vir my gaan dit oor stilstaan – en besef: wat ek het, is genoeg. Dit gaan oor dankbaarheid. Nie net vir dinge nie, maar om te leef vanuit dankbaarheid. ’n Dankbaarheid wat sigbaar is in dade.
Hierdie week leer my weer: dankbaarheid begin nie nadat jy gekry het nie. Dit begin met bewus wees van wat jy reeds het. Gister het ek saam met ander predikante gesels oor hoe ons gemeentes kan leer om vanuit dankbaarheid te leef – om nie altyd op “meer” te wag nie. Want daar sal altyd iets wees wat ons nog wil hê: daardie nuwe jas by Woolies, of daardie uitstappie wat ons beplan. En dis goed – geniet dit. Maar onthou ook die R1.
Wees dankbaar vir die R1 in jou beursie – selfs al koop dit niks vir jou nie. Want vir iemand anders maak daardie R1 die verskil tussen ’n smaaklose bord kos en ’n droom van ’n skoolhoof: dat haar kinders, al het hulle min, ten minste lekker kan eet.