Dit is vir my geweldig moeilik om vrae oor God se wil te antwoord – en om eerlik te wees, dit is iets waarmee ek self al baie keer geworstel het. Want as ek sê “God wil,” dan moet ek mos ook erken dat “God wil nie” ook ‘n opsie kan wees? En dit is juis waar my denke hieroor dikwels struikel. Hoekom sou God nie wil nie? Of meer nog – hoekom sou Hy iets sleg toelaat? As God almagtig is, hoekom keer Hy nie die seer, die verlies, die donker goed wat oor ons pad kom nie?
Full disclosure: Ek is nie gemaklik met “alles het ‘n doel” of “God het dit oor my pad gestuur” praatjies nie. Ek dink die lewe is baie meer kompleks as dit.
Ek het al gesê dat ek eerder verkies om te praat van God se droom vir my lewe, as van God se wil. Drome het hoop in hulle, ruimte, lig. “Wil” voel soms koud en ver. Iewers het iets vir my oopgegaan hieroor die afgelope tyd… Ek wil probeer om hierdie spanning uit te pak – en ek wil dit doen deur jou saam te vat na twee kamers: die kamer van die kop en die kamer van die hart.
Eers: die kamer van die kop
Hier probeer ons dink oor God se wil. Maar dit is nie so maklik nie. Hier begin ons vrae vra soos:
Het God hierdie moeilike ding oor my pad gebring? Hoekom het Hy dit toegelaat? Hoekom keer Hy nie slegte dinge nie? Hoekom spaar Hy ons nie van pyn nie?
Maar ek het al besef — wanneer ek op hierdie manier oor God se wil probeer dink, is ek in die verkeerde kamer. Dit is soos om vir ‘n sesjarige kind te vra om dié som te maak:
Neem die jaar waarin Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing gehad het, tel daarby die huidige BTW-koers, plus een, minus tien. Maal dan jou antwoord met twee. ‘n Volwassene kan dit maklik uitwerk, maar vir ‘n kind is dit eenvoudig onmoontlik — nie omdat die kind dom is nie, maar omdat hy of sy nie die verwysingsraamwerk het nie.
Net so is dit met ons en God se wil. Wanneer ons met net ons verstand probeer verstaan, mis ons dalk iets baie belangriker. Want God se wil is nie net iets om te verstaan nie. Dis iets veel groter.
Dan: die kamer van die hart
Dis hier waar dinge anders begin werk. Hier redeneer ons nie – ons voel. En hier klink een van die belangrikste verse in die Bybel duideliker as ooit:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Romeine 8:28)
Wanneer ons in die kamer van die hart oor God se wil praat, dan sê ons nie altyd presies hoe of hoekom dinge gebeur nie. Ons sê eerder: Somehow, gaan dit okay wees. Want Christus het reeds die finale oorwinning behaal. Die wedstryd is klaar gewen.
Ek dink aan ‘n rugbywedstryd. Die een span loop teen die middel van die twee helfte met 70 punte voor. Een van hulle skop na die pale – en mis. Dis sleg in die oomblik, ja. Maar hulle gaan nie die wedstryd verloor nie. Die uitkoms is nie in gevaar nie. En net so, in Christus het ons die lewe gewen. Ons mag dalk soms die pale mis, dalk seerkry op die veld. Maar die uitslag is nie in twyfel nie. Ons het klaar gewen.
En dan is daar nog ‘n beeld, vir my selfs nog nader aan die hart. Ek is ‘n aangenome kind. My pa vertel dat daar een spesifieke oomblik was toe hy gevoel het ek weet hy is my pa. Ek was nog baie klein. Ons het by ‘n besige winkel uitgekom en buite was dit lawaaierig, besig en vol vreemde mense. Ek het net my kop in sy nek gedruk, my arms om hom geslaan en hom styf vasgeknyp in dit wat ek in my lyf se greep kon vasgryp.
En dit, dink ek, is hoe ons God se wil regtig moet benader. Nie altyd probeer verstaan met die kop nie. Maar vasdruk. Vas aan Hom. Soos ‘n kind wat weet: Ek is veilig in my pa se arms.
Wanneer ons oor God se wil praat, moet ons mooi kyk in watter kamer ons staan. As ons net met ons koppe probeer redeneer, gaan ons dalk moed verloor. Maar as ons in die kamer van die hart staan – daar waar ons voel, vertrou, en vashou – dan beleef ons iets anders. Dan weet ons: al is dinge sleg, al verstaan ek nie – somehow gaan dit okay wees.
Want Hy laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.