‘n Paar jaar gelede het ons saam met vriende na hul familieplaas gegaan om die naweek daar weg te breek. Dit was nie ‘n plaas wat hulle gereeld besoek het nie, en ons was talle kere onseker oor watter pad om te vat. Mens moes deur ‘n paar plase ry om uiteindelik by hulle plaashuis uit te kom. Dit was Kalahari-veld, sand waarin mens maklik wegsak, pragtige grasvlaktes en doringbome. Ons is eers na 17:00 uit die dorp weg, so dit het redelik gou begin donker word op pad plaas toe. Ons het almal in hul kombi gery, wat beslis nie ‘n ideale voertuig vir ‘n sandpad is nie.
Kilometers van die plaashuis af val die kombi in die sand vas. Ek en die seuntjie spring uit, begin grawe, stoot en woel. Uiteindelik, na lank se gespook en spartel, kry ons die bus uit die sand. Die eerste ding wat jy moet weet van ry in sulke sand is om aan te hou beweeg. Nou beweeg die kombi uiteindelik, maar ek en die seun is nog buite. “Ry julle maar aan, ons kom!” skree ons terwyl ons opgee om hulle te probeer inhaal. Daar gaan die bus… En die lig. Vinnig is dit sommer pikdonker om ons.
Nie ek of die seuntjie weet hoe ver die plaashuis nog is nie – ook eintlik nie presies waar dit is nie. Loop ons net reguit aan? Die tweede ding van hierdie sand is om te onthou dat die inspanning om daarin te loop drie keer soveel is as om op ‘n harde pad te loop. Eers is ek geïrriteerd, later raak ek effens bang. Het ons die plaashuis gemis? Hoe gaan hulle ons weer kry? Ons het nie ‘n druppel water of selfoonsein nie. Ek soek baie ver in die verte na ‘n liggie of geluid van ‘n plaashuis, maar niks. Herhaal Rageltjie de Beer se storie vanaand?
Na wat soos ure se stap voel, hoor ek uiteindelik die sagte kraak van ‘n windpomp wat draai, en kort daarna gewaar ek die langverwagte plaashuis se liggie. Dit is baie dof, want dit is nog ver. Maar skielik voel ek hoe my hele liggaam reageer op dié dowwe liggie – of eerder, op die belofte wat dit inhou. My kop weet dadelik dat ons “gered” is. Daar was water en daar was lig – dus waarskynlik ook ‘n plaashuis met mense wat vir ons wag. My hart voel gerus; die vrees verdwyn amper heeltemal, vervang deur blydskap, hoop en afwagting. Dit raak amper lekker om te stap. Tog bly my liggaam moeg en my bene seer. Dit vereis steeds ‘n baie doelbewuste voet-optel-en-neersit-benadering. Maar om een of ander rede is dit nou meer draaglik.
Hierdie ervaring laat my dink aan Hebreërs 12:1-2, waar die geloofslewe beskryf word as ‘n wedloop wat ons moet hardloop met volharding. Ons word geroep om elke las en sonde wat ons vertraag, af te lê en ons oë op Jesus te rig. Ons eie pad deur die Kalahari-sand is baie soos dié wedloop. Soms val ons vas in die sand van ons probleme, sondes en vrese, en probeer ons hard om weer los te kom. Wanneer ons dan vorentoe beweeg, kan dit nog steeds voel soos ‘n lang, moeilike pad.
Maar daar is altyd ‘n liggie – al is dit hoe dof – wat ons vorentoe trek. Ons word aangemoedig deur die geloofsgetuies wat voor ons geloop het, hulle stories soos ‘n dowwe liggie wat sê: “Hou aan beweeg, die Here is getrou.”
Ek dink ook aan die Psalmdigter se woorde in Psalm 130:6: “My siel wag op die Here, meer as wagte op die môre, wagte op die môre.” Kan jy jou voorstel hoe wagte moes voel na ‘n lang nag se wagstaan vol risiko en vrees, wanneer die eerste ligstrale in die ooste begin deurbreek? Die verligting, hoop en sekerheid wat die dagbreek bring, is wat ons ook ervaar wanneer ons in ons geloofswedloop na Christus kyk.
Christus is ons uiteindelike lig, die sekerheid dat ons wedloop nie verniet is nie. Soos ek en die seuntjie deur die donkerte gestap het, met daardie dowwe liggie wat voor ons skyn, stap ons almal deur die donker van hierdie wêreld na die helderheid van Christus toe. Hy is die lig wat ons kop, hart en liggaam aanmoedig om voort te gaan. Hy is ons môrester, ons dagbreek. Die lig sal altyd deurbreek, die môre sal altyd kom, en Christus sal ons altyd veilig huis toe lei.