Burgerskap: Wanneer stof van die hemel aan jou vellies klou

Ek het hom van ’n myl af gesien. Daai keps, vellies, en die wit kouse wat tot net onder die knieë strek … dié oom is nie van die Paarl nie. Dis ’n Noord-Kaap vibe dié. Dit ruik na stofpad en onderonsies in die koöperasie. Ons loop toevallig langs mekaar uit by Checkers. Die oom klim in sy Hilux. En toe ek by sy nommerplaat verby stap, staan dit daar: Upington Toyota. Ek was reg.

Ek het daar gestaan met my inkopies en gedink aan Paulus. Aan Filippi. Aan burgerskap.

Jy sien, in Paulus se tyd was burgerskap alles. Dit gee jou sekuriteit, regte, status. Dit bepaal of jy mag praat, werk kan kry, vry kan kom. Dit sê wie jy is. Filippi, die ou Romeinse kolonie in Masedonië, was vol mense wat dit geweet het. Mense wat trots was op hul Romeinse burgerskap. Mense wat geleer het om hul walk en talk in lyn te bring met Rome se ekonomie en identiteit. Dis vir daardie mense wat Paulus skryf: “Ons burgerskap is in die hemel.”

Maar ons het vergeet hoe om burgers van die hemel te wees.



Ek sit in ’n kerklike kring hierdie week. En dis eintlik snaaks – of tragies – hoe ons daar oor mense gesels, oor hul lewens, hul pyn, hul hoop, en iemand sê: “Dit is maar hoe dit ook in die korporatiewe wêreld werk.” En iets in my krimp. Want die kerk is nie die korporatiewe wêreld nie. Die kerk is die liggaam van Christus. En ons het dit begin vergeet.

Ons open byeenkomste met gebed. Bid mooi. Vra die Here vir leiding. En dan vergader ons – met agendapunte, politiek en magasyne vol antwoorde. En dan sluit ons weer af met gebed. Is ons gebede dan net blikoopmakers?

En toe tref dit my weer: dis presies wat Paulus sien. Dat daar ’n groeiende gaping is tussen wat ons sê ons glo, en hoe ons leef. Dis nie net in kerkvergaderings nie. Dis in die ry by Pick n Pay, langs die sportveld, in WhatsApp-groepe en hoe ons geld spandeer. Dis in hoe ons kerk toe kom – as ons kom – en in wat ons as sukses beskou. Ons leef soos Filippense – en vergeet waar ons vandaan kom.

Dis waarom Paulus huil. Letterlik. “Ek sê dit vir julle met trane …” Want hy het gesien hoe mooi die kerk kan wees. Hoe die Gees mense kan verander. Hoe diep Christus mense se waardes kan herbedraad. En nou sien hy hoe vinnig die kerk weer van koers af beweeg.

Filippi was ’n droomplek om te bly. Die Franschhoek van sy tyd. Dit het goed gegaan. Té goed. En dis presies die gevaar. Want wanneer dit goed gaan, het ons minder tyd vir Christus. Minder nodigheid vir geloof. Minder plek vir genade. Dan raak Jesus ’n aanhangsel.

Jy dra jou burgerskap. Dis sigbaar. Dis hoorbaar. Dis leefbaar.



Dis hoekom die oom by Checkers my nie los nie. Want jy sien ’n mens se burgerskap. Jy hoor dit in sy aksent. Jy sien dit in hoe hy staan, wat hy dra, hoe hy jou groet, waaroor hy praat, waarvoor hy opstaan. Net so sê Paulus: Ek sien dit in julle vellies, Filippi. Julle sê julle is burgers van die hemel, maar julle leef soos almal anders. Julle “god is julle maag.” Julle eer lê in julle skande. Julle dink aan aardse dinge.

Paulus herinner hulle – en ons – aan iets wat hulle al vergeet het: Jy is nie eerste ’n burger van Filippi nie. Jy is nie eerste ’n burger van die Paarl, van Suid-Afrika, van hierdie wêreld nie. Jy is ’n burger van die hemel. En dit moet sigbaar wees.

Wat gebeur as ons dit ernstig begin neem?



Wat gebeur as ons nie net kerk speel nie, maar kerk ís? Wat gebeur as ons vergader, besluit, praat, koop, stem, dien, bestuur, liefhê en protesteer soos mense wat aan ’n ander koninkryk behoort? Wat gebeur as jou “ekonomie” – jou oikos nomos, die reëls van jou huis – nie die ekonomie van wins en selfverwerkliking is nie, maar van genade, diensbaarheid, tevredenheid in verborgenheid in Christus? Wat gebeur as ons geloof nie net ’n hulpmiddel word wanneer dit swaar gaan nie, maar die longe waarmee ons asemhaal – ook wanneer dit goed gaan?

Dan, sê Paulus, begin dinge verander. Nie noodwendig die wêreld nie, maar ons. En wanneer die kerk verander, kan die wêreld dalk ook.

Dis nie verkeerd om ’n mooi huis of ’n Hilux te hê nie. Dis nie verkeerd om goeie skoene te dra nie. Maar dit is verkeerd as dít alles jou definieer. As dít bepaal hoe jy ander behandel. As dít jou eer en jou ambisie bepaal…

Want jy is meer. Jy is anders. Jy is van bo.

So as mense wil weet wie jy is … Hulle hoef net na jou vellies te kyk en die stof van die hemel daaraan te sien klou.


Lees soortgelyk

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

Wil God of wil Hy nie?

Is God se wil iets om te verstaan… of iets om te vertrou? Want soms, ten spyte van seer en vrae, sê die hart…

DeurDJ MullerMay 9, 2025

Pantoffels vir die preekstoel

Met of sonder skoene, staan ons almal elke dag in verskillende rolle of met verskillende hoedens op. Maar ons bly een mens – gevorm…

DeurNadia MullerApr 15, 2025