Vanoggend staan ek met die kruis van Lydenstyd in my hande—’n kruis wat besonder swaar voel. Die eeue-oue, onbeantwoorde vraag maal in my gedagtes: Hoekom?
Hoekom is ’n ma gister, net ses weke ná die geboorte van haar tweede baba, skielik aan ’n aneurisme oorlede? Sy laat ’n pa agter met twee kinders, albei jonger as twee. Hoekom moes ’n 12-jarige dogter vanoggend haar pa gaan wakker maak, net om te besef hy reageer nie? Hy laat sy vrou en kinders verwees agter. Hoekom is ’n jong man, nog in sy dertigs, brutaal en onskuldig vermoor?
Ek weet dat die hoekom-vraag vra net lei tot ’n afwaartse spiraal sonder antwoorde, maar in hierdie tyd van lyding, op hierdie spesifieke oggend, vra ek dit steeds. Dalk vra ek dit vir God, dalk bloot vir die niet. My oë rus op die kruis, en ek voel hoe die seer deur my hart en liggaam trek—swaar, rou en onafwendbaar.
Daardie man wat brutaal vermoor is, is aan hierdie kruis vasgespyker. Hoekom? Sodat ons werklik kan weet wat lewe is. Nie net oorlewing nie, nie net die daaglikse geveg om aan te gaan terwyl alles om jou donker voel nie. Nee—die Lewe. Die diepste wete dat jy, al lê jy snikkend op ’n badkamervloer of staan op die hoogste berg, steeds kan glo in die woorde van Lauren Daigle se lied:
You are not hidden
There’s never been a moment
You were forgotten
You are not hopeless
Though you have been broken
Your innocence stolen
I hear you whisper underneath your breath
I hear your SOS, your SOS
I will send out an army
To find you in the middle of the darkest night
It’s true, I will rescue you
God is ons beskutting, ons toevlug.
Hy is nie ’n afsydige waarnemer nie. Hy staan by ons. Hy wag met oop arms dat ons in Hom toevlug neem. By Hom is die hoekom?-vrae nie net sinne wat antwoorde kort nie, maar rou snikke van gebroke mense. By Hom is die hoekom? nie ’n soeke na begrip nie, maar oomblikke van broosheid, van rou emosie. By Hom is selfs jou diepste seer welkom.
Hy sien jou.
Hy hoor jou.
Hy verstaan jou pyn.
En Hy staan nie op ’n afstand terwyl die lewe rou wonde oor jou hart slaan nie. Hy staan by jou—en met sy gespykerde hande hou Hy daardie wonde vas, al syfer die bloed steeds deur.
Vanoggend het ek teen ’n berg uitgehardloop—dalk om van die seer te probeer ontsnap. Maar in die hardloop besef ek: die kruis wat vandag so swaar op my skouers rus, die Lydenstyd-kruis, is leeg. Ja, daar is ’n kruis. Ja, daar is seer. Maar daar is ook Lewe. Hy hét vir ons oorwin.
Nog ’n lied van Lauren Daigle sê:
Where are You now
When darkness seems to win
Where are You now
When the world is crumbling
Oh I, I
I hear You say
Look up child
En dan is daar Psalm 121:
“Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.”
So ja, ek voel steeds die swaar van hierdie Lydenstyd-kruis. Maar ek kies om op te kyk.
Op te kyk en te sien: Dáár, op die badkamervloer, tussen die gebroke stukke van my lewe, is Hy met sagte oë en trane. Hy wat my stukkies bymekaar hou.
Op te kyk en die berg voor my raak te sien, en te weet: Hy wat hierdie berg gemaak het, het ook my gevorm. Hy ken my. Hy ken my seer. En Hy, die Skepper van alles, sien my raak.
Ek kies om op te kyk—en die leë kruis te sien. Want al is daar spykers en al is daar bloed, daar is Lewe.
En selfs al is elke asemteug pynvol, solank ek asemhaal, sal ek opkyk.