Ek besef dat die “ideale kerk” maar ’n droom is, ’n pie in the sky. Ek dink egter dat Jesus ons wel alles kom leer het oor hoe ’n volmaakte kerk moet lyk, al wyk ons soms (eintlik maar gereeld?) ver daarvan af.
Wat ek die meeste mis, is dat wanneer ons waag om van “die kerk” en “die mense” as aparte entiteite te praat, hulle vir mekaar soveel meer kon wees as wat dit tans is. Te dikwels ervaar ek die kerk soos ’n winkel waar verbruikers – en ek kies dié woord doelbewus – blind is vir mekaar se swaarkry en vreugdes, en net kies en keur wat hulle wil hê, amper as ’n quick-fix vir die week. Iewers het selfs ons waardering vir die sakramente ligsinnig begin word.
En dan is daar die groot leemte… die kerk is soms die plek waar verlorenes en sondaars die minste liefde en vergifnis ervaar. Ons moet onthou: die kerk is niks minder nie as die liggaam van Jesus Christus – dit is kosbaar en eintlik peperduur. “Lewe-duur”!
Hierdie stuk poësie verwoord iets van die hartseer oor wat die kerk vir baie geword het.
“Uit voorraad”
“Nee flippit man, alwéér?”
Die winkel wemel van die mense
wat die vloere blink polleer,
dié wat posters level hang
en ook dié wat beter diens verlang.
Rakke vol paashase
en die kersbome staan mooi sterk,
in die warrelwind van stormloophongeres
wat hier kom shopping doen of werk.
“Die musiekies is tog te pragtig”
sê ‘n tannie met ‘n brood.
Met ‘n “iewers-net-‘n-R5”
bless sy die bergie en sy nood.
“Gaan jul weer voorraad kry?”
Soetwyn is die in-ding –
of jy proe, slurp, spoeg of suip.
Wierook is ‘n walm
wat gewetes hierheen fnuik.
Tonnels vol ornamente
vir die molle om te koop,
terwyl hul soek
na nóg ‘n quick fix hoop te koop.
Maar iewers is ‘n rak
op die level van die oog:
“Vergifnis – Out of stock”
Genadekrane tydelik opgedroog.