Wat vat dit van my om R2 vir iemand op te tel wat dit laat val het? Vyftien sekondes van stop, buk en gee. In my geval – ‘n wit hand wat gee vir ‘n pikswart een. Dit vat niks, maar dit kon die verskil tussen eet of honger gaan slaap wees vir dié karwag van Malawi in die mall. Vanuit ‘n donker gesig het oë geblink, tande spierwit gesmile en sy hele wese dankbaarheid gestraal omdat ek vyf (nét vyf!) meter agter hom aangeloop het om sy R2 vir hom te gee. Dit vat niks!
In dieselfde winkelsentrum, ‘n dag later, sit ‘n Moslem man met sy wit rok (thwab) en gebedshoed (kufsi). Voor hom laat val ‘n jong swart vrou haar geld. Sy besef dit, stop en tel dit op, maar sy mis een. Hy het haar dadelik gekeer en vir haar gewys dat daar agter haar nog ‘n muntstuk op die grond lê. Dit kos niks! Tog kos dit alles, want in daardie oomblik is ek nie ‘n wit vrou wat ‘n swart man help nie, hy is nie ‘n Moslem man wat ‘n swart vrou help nie, maar is ons mense in dieselfde plek wat iets vir iemand anders kan beteken. Daar is sekerlik nie meer uiteenlopende mense as ons vier nie, maar diensbaarheid en dankbaarheid het vir daardie oomblikke alle verskille uit die weg geruim. Ons vier sal sekerlik nooit saam om ‘n tafel sit en middagete eet nie, want ons is net té verskillend. En dit pla my, want dit is nie wat ek by Jesus leer nie. Jesus het juis die mense wat anders was as Hy genooi om saam met Hom aan tafel te sit. Robert Karris, ‘n Nuwe Testamentikus, wat spesialiseer in die Lukas evangelie sê;
“In Luke’s Gospel Jesus is either going to a meal, at a meal, or coming from a meal (Uit: Eating your way through Luke’s Gospel).”
En Jesus eet amper altyd saam met anderste mense, na wie se stories Hy geluister het, wie se andersheid Hom nie bang gemaak het nie. So as jy my môre in die winkelsentrum raakloop en ek kyk net af, is dit moontlik omdat ek soek vir daardie geld wat val, daardie oomblik waar ras, kultuur, taal, seksualiteit en godsdiens nie ’n skeiding is nie, maar diensbaarheid en dankbaarheid ‘n hegte band sluit.
Dalk sien jy ‘n wit vroutjie by Mugg & Bean waar sy ‘n ete deel met ‘n swart karwag, ‘n Moslem man en ‘n jong swart vrou. Moenie net waai nie, kry vir jou ‘n stoel, ons bestel solank vir jou ‘n drinkding!