Ek onthou uit my kinderdae ‘n hele paar tuinhekkies. Maar dis nie die hekkies in die voortuin wat by my bly nie. Dit is dié in die agterplaas, tussen ons en die bure… Ek onthou tannie Petro, ouma se suster in Betlehem se aftree-oord se hekkie na haar bure. Of die een tussen ons huis en oom Eben-met-die-eende se erf. Bure was toe vriende. Familie. En behalwe die tuinhekkies wat altyd toeganklik was, was hul harte ook oop.
Ons het in ‘n wêreld geleef waar grense gereeld bloot simbolies was, ‘n dun draadheining met ‘n klein houthekkie wat maklik oopgeklap kon word. Dit het die fisiese ruimte geskei, maar nie die mense nie. Dié tuinhekkies het die beweging van mense en vriendelikheid vergemaklik. Dit was eenvoudig om vinnig in te loer vir ‘n koppie tee, om te hoor hoe dit gaan of ‘n 5mm boorpunt te leen. Daar was geen vrees, geen hindernis – net die gemak van gemeenskaplikheid.
Maar die wêreld het verander. Vandag is ons mure selde net ses voet hoog. Ons bou dit hoër, sterker, en die tuinhekkies wat vroeër toegang gebied het, is nou dikwels heeltemal weg. Selfs die hekkie in die voortuin, wat vroeër gemoedelik vir besoekers oopgestaan het, is nou deel van ‘n proses waarvoor sekuriteitsklaring benodig word. ‘n Proses waar die gemoedelikheid van “inloer” vervang is deur die kilheid van “aanmeld.”
Dit is asof ons, in die naam van veiligheid, die heel kern van wat dit beteken om deel van ‘n gemeenskap te wees, verloën het.
Die gevolge van hierdie isolasie is duidelik: ons leef in ‘n wêreld waar mense mekaar minder vertrou, waar gemeenskappe fragmenteer en waar eensaamheid aan die toeneem is. Die eenvoudigste gebaar van vriendelikheid, soos om iemand deur jou hekkie te nooi, het ‘n rariteit geword. Die fisiese skeidings wat ons opgerig het, het emosionele skeidings geword. Dit is asof ons, in die naam van veiligheid, die heel kern van wat dit beteken om deel van ‘n gemeenskap te wees, verloën het.
Is dit nie tyd dat ons weer begin praat oor die betekenis van ‘n tuinhekkie nie, veral op hartsvlak? Miskien moet ons weer ons harte en hekkies oopmaak, vir die klein dinge wat groter impak het as wat ons ooit kon raai. Leen weer jou gereedskap vir jou buurman, en nooi hom vir koffie as hy dit terugbring. Wees altyd ‘n koppie suiker in die skuld by iemand.
Gaan gooi jou oorskiet blaarslaai vir oom Eben-met-die-eende se eende of daag onverwags met ‘n melktert by tannie Petro op, maar maak seker jy gaan by die hekkie in die agterplaas in.