Die padwerke in die vallei het ons in ‘n web van stop-en-go’s gevang. Hierdie gedwonge onderbrekings is ‘n bron van groot frustrasie, ‘n voortdurende herinnering aan tyd wat ons as “mors” beskou. Ons sug, tik ons vingers teen die stuurwiel, en wens die groen lig wil net kom.
Vandag, op pad na ons erediens toe, stuur Lita vir my ‘n foto. Dit laat my toe besef: dalk is hierdie stoppe meer as net ‘n ongerief… veral wat ons gejaagde lewens betref.
Die foto: sy is vasgekeer by so ‘n stop. Voor haar die rooi teken van stasis, en agter dit in die verte, die hemel in volle glorie. Die son breek deur die wolke in strale van lig wat die oggendhemel laat vlamvat.
Ek kon nie help om te wonder nie: sou sy dit gesien het as sy kon aanhou ry? Sou die son se opkoms nog vir haar dieselfde betekenis gehad het, as sy nie moes stop nie?
Wat mis ons wanneer ons nie die waarde van stilstand besef nie?
In ons gejaagde lewens jaag ons dikwels blindelings voort, sonder om te stop en te kyk. Ons is gefokus op die volgende taak, die volgende afspraak, die volgende bestemming. Maar wat verloor ons in hierdie gejaag? Wat mis ons wanneer ons nie die waarde van stilstand besef nie?
Dalk is die stopplekke op die padwerke van ons lewens die geleenthede wat ons nodig het om die skoonheid van ons bestaan te besef. Dit is in die stilstand, in die wag, dat ons die kans kry om werklik te sien – om te waardeer wat voor ons is. Die rooi stopteken, so vervelig soos dit mag lyk, het ‘n geskenk vir ons: die geleentheid om die wêreld rondom ons waar te neem, om asem te skep, om die heilige in die gewone raak te sien.
Ons stop dalk vir die padbouers, maar wat ons werklik kry, is die geleentheid om self gebou te word deur die groot Bouer – om ons innerlike te vernuwe, om ons perspektief te verskuif. Miskien moet ons nie net kla oor die stoppe nie, maar leer om hulle te omhels. Dalk moet ons meer dikwels stilhou, nie net wanneer ons gedwing word nie, maar wanneer ons voel die lewe jaag te vinnig verby.
En soos ons wag, kan ons net dalk iets van ons eie innerlike sonsopkoms ontdek.