In die Bybel lees ons dat Jesus sy dissipels se voete gewas het. “Vandag kom hierdie mense om julle voete te was en nuwe skoene te gee. Wat ’n wonderlike voorreg! Dit leer ons van opregte nederigheid,” het die skoolhoof gesê by die skool waar ek die week saam met Samaritan Feet skoene uitgedeel het. Hier sit ek, ’n “ryk” wit vrou, met my handdoekie op my skoot, handskoene aan en ’n pak wet-wipes gereed om “arm” kinders se voete te was en nuwe skoene aan te trek. Die woorde van die juffrou het my egter ongemaklik gemaak. Is ek regtig so nederig en so ’n “goeie” mens dat ek gemaklik voel om met Jesus in die verhaal van Johannes 13 gelykgestel te word? Nee, ek is nie, want alhoewel ek ’n verteenwoordiger van Jesus is, is daar soveel in my lewe wat maak dat ek nie eens amper soos Jesus is nie. Ek streef natuurlik daarna, maar om só vergelyk te word met Jesus het my laat skaam kry, want ek verdien dit nie.
Die eerste dogtertjie kom sit voor my. Ek vra haar naam en begin haar stukkende ou skoentjies uittrek. Ek vra haar oor haar drome en deel met haar hoe haar drome ook Jesus se drome vir haar is. Haar voete is reeds silwerskoon, so die afvee met die wet-wipes is meer vir die sweterigheid, want dit was baie warm. Ek trek haar nuwe skoene aan, gee haar ’n drukkie en stuur haar weg, en wag vir die volgende kind.
Weer is dit ’n dogtertjie, sy is agt. Ek begin met dieselfde proses as die vorige keer; ek weet immers wat om te doen. Die lyfie het egter glad nie skoolskoene nie; sy dra swart tekkies met ’n blink ster op. Toe ek haar kousies uittrek, is daardie voete pikswart vuil bo en onder. Ek voel, meer as wat ek sien, hoe die klein lyfie haarself nog kleiner maak op die stoel, skaam oor die vuil voete op my skoot. Ek maak nie oogkontak nie en gesels sommer net met haar oor hoe warm dit is en wat sy eendag wil word, want ek wil nie haar verleentheid vererger nie. Ek neem die wet-wipes en begin die vuil voete skoonvee. Ek trek vir haar ook nuwe wit sokkies aan, en sy help om die veters in die skoene te ryg voor ek dit vir haar aantrek. Ek stuur haar ook weg met ’n drukkie, maar met ’n swaar hart. Ek wil eintlik nog gesels om te hoor: Wanneer laas kon sy haar voete ordentlik was? Is daar iemand by die huis wat haar voete kan was? Is daar iemand wat genoeg omgee?
Nou sit ek en dink terug aan daardie oomblik en besef: Ek was vir seker nie Jesus nie; ek was eerder Maria in Johannes 12 wat Jesus se voete met Nardus-olie gesalf het. Want daardie klein lyfie op die stoel met die vuil voete is meer soos Jesus, wat verdien dat iemand haar raaksien, haar liefhet en erken vir wie sy is, vir die drome wat sy het, en dat iemand so af en toe daardie voete was.
Ek was vir seker nie Jesus nie, want ek het nie haar hele lewe kom verander nie, maar in daardie vyf minute van sit met haar voete op my skoot het ek weer besef dat Jesus nie is wie ek dink Hy móét wees nie. Hy ontmoet my ook nie daar waar ek dink die beste is nie. Jesus is dikwels ’n dogtertjie met vuil voete.
Ek dink nou anders oor die uitreik; ek bid ook nou anders. Ek bid nou dat die Here die arrogansie uit my hart sal wegneem wat laat dink ek is iemand wat vir haar iets kon beteken, en dat Hy my eerder sal leer van opregte nederigheid sodat ek by haar kan leer en so Jesus kan sien.