Ek het onlangs te doen gehad met ’n vrou wie se dogter haar gesmeek het om dokter toe te gaan en toetse te laat doen omdat sy nie goed voel nie. Haar reaksie was: “Nee wat, as my strepie getrek is, is my strepie getrek.”
Ai tannie!!
Ek worstel al ’n geruime tyd met hierdie gedagte: “My strepie wat getrek is”—dat ek geen aandeel het in wanneer of waar dit sal wees nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek besef dat God in beheer is, en dat ek nie kán weet wanneer my laaste dag gaan wees nie. Daarom moet ons elke dag aangryp en leef asof dit wel die laaste is. Tog wonder ek of ek nie besig is om God se hart seer te maak as ek nie na my eie gesondheid omsien nie. Wil Hy nie hê dat ek ’n gesonde en lang lewe moet hê eerder as een wat kortgeknip is deur diabetes, hoë bloeddruk, ensovoorts nie—dalk omdat ek nie na myself omgesien het nie?
Hierdie gedagtegang het begin ná my ma se afsterwe. ’n Eenvoudige skoueroperasie het gelei tot ’n reuse hartaanval. Aanvanklik was ek kwaad vir God omdat Hy my nie meer tyd saam met Mamma gegee het nie. Maar toe ek mooi daaroor dink, besef ek: my kwaad moet skuif. Ek moes eerder vir my Mamma kwaad gewees het, wat oor soveel jare haar diabetes en hoë bloeddruk nie ernstig opgeneem het en gesonder geleef het nie. Dalk was haar kanse op oorlewing beter.
Ek weet ek kan nie my lewe verleng deur my oor dinge te bekommer nie (soos Jesus in sy bergpredikasie in Matteus 6:27 sê), maar kan ek dalk my lewe verleng deur dit wat God my gegee het op te pas? En mag ek Hom vra vir hulp? ’n Vriendin vertel hoe haar pa 15 jaar gelede ná ’n ernstige hartaanval gebid het dat God hom nog 15 jaar sal spaar. Hy het gesonder begin leef en in 2024, presies 15 jaar later, is hy oorlede. Is ek braaf genoeg om só eerlik vir God te vra, en sal ek Hom vertrou om my te gee wat ek vra as ek ook my kant bring?
Ek sukkel die afgelope jaar van tyd tot tyd met my eie gesondheid—gelukkig nie iets ernstig nie—maar ek het besluit dat geen dokter, pilletjie of raad gaan help as ek nie by die basiese beginsels begin om na myself te kyk nie: gesonder eet, genoeg oefening, minder spanning, meer lag en meer stil word. Die woorde van 1 Korintiërs 6 was lanklaas in my lewe so waar soos nou:
“‘Alles is my geoorloof,’ maar nie alles is voordelig nie. ‘Alles is my geoorloof,’ maar ek sal my deur niks laat oorheers nie. ‘Kos is vir die maag en die maag vir kos,’ maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.”
Ek voel oor hierdie saak soos ’n aktivis. Ek wil almal vir wie ek lief is vra om hulself só op te pas dat ons nog lank en gesond saam kan lag en kuier.
Wie is ek om te sê my strepie is getrek, maar ek verheerlik God nie met my liggaam nie? Wie is ek om so onverantwoordelik om te gaan met dit wat God só kosbaar gemaak het, en dit af te skeep en seer te maak terwyl ek wéét wat die regte ding is om te doen?
Ek is ’n gebroke mens in ’n gebroke liggaam—afhanklik van God om my te genees en te laat leef. Ek is kind van God wat besef hoe kosbaar die lewe is, en ek wil my kant bring om gesond te wees. Sodat ek dit wat God geskep het, kan geniet. Sodat ek kan oud word, my kinders en kleinkinders kan sien grootword, saam met my man kan grys word en dalk, as ek 80 is, nog ’n halfmaraton kan hardloop.