Powered by RedCircle
Ek is sterk op pad na 40 (ja, ek weet dit is nog jonk!), en skielik wonder ek oor baie dinge van myself. Gelukkig begin ek deesdae tog antwoorde kry op hierdie wonder-vrae. Soveel dinge maak nou net meer sin. Ek kom hierop terug…
Toe ek en Nadia in die 13de Laan in die Moot gewoon het, was daar ’n Wendy-huisie agter die huis. Fietse, grawe, bokse, heaters in die somer en waaiers in die winter. Met tyd het dié huisie só deurmekaar geraak dat ek hom van tyd tot tyd heeltemal moes uitpak, uitsorteer, en weer terugpak. Eers dan kon ek weer behoorlik daarin beweeg. Dit was ’n herhalende proses van uitpak, uitsort, terugpak.
Aan die einde van Covid het ek dieselfde proses in my eie lewe begin toepas. My “huisie” was toegepak, en ek moes dinge uitpak, uitsorteer en weer terugpak. Dit was bevrydend. Daarna was daar weer plek om vrylik te beweeg.
Een van die ontdekkings wat ek gemaak het, is dat ek soms in ’n grot wil skuil. ’n Paar dinge het dit vir my duidelik gemaak:
- Ek sal maklik vir amper ‘n halfuur onder die stort staan met my kop onder die water, sodat ek niks anders kan hoor as die water in my ore nie;
- Ek sal vir ‘n ruk kamstig agter ‘n toe deur “op die troon” gaan sit as ons by mense kuier en die kinders te veel raas of te besig is;
- In die aand slaap ek met my arm op my kop om my oor toe te druk;
- Ek ervaar soms ‘n dringendheid om alleen ‘n ent op die plaas te gaan stap;
- Ek ry in stilte werk toe en terug.
Daar is nog baie sulke dinge, maar ek dink ek maak my punt? “Is ek gehoorsensitief? ’n Spektrum-kind? Wat gaan aan?”
Vroeër vanjaar het ek opgemerk dat ons oudste dogtertjie baie soos ek is. Sy vra dat ons in stilte skool toe ry. Sy spandeer alleen tyd in haar kamer na ’n besige dag by die skool. Sy lê met haar kop onder die water in die bad. En toe slaan dit my – hierdie kind is net soos haar pa. Ek het dit getoets toe sy ontsteld in haar kamer lê en nie kon sê wat fout is nie. Ek vra haar toe: “Het jy soms die behoefte om iewers in ’n grot te gaan sit waar dit stil is en jy veilig voel?” Sy het nie met woorde geantwoord nie, maar haar gesig het alles gesê: “Oh my word, HE GETS IT!”
Ek was ook verbaas. Skielik het ek beide haar en myself beter verstaan. Ons het GROT-TYD nodig, en dit is okay.
Ons het nou ’n ooreenkoms: as sy voel soos sy voel en nie weet hoekom nie, sê sy vir my: “Pappa, ek gaan grot toe.” Dan los ek haar uit. As ek in my grot is, los sy my uit. En dit werk.
Gun jou mens ‘n grot tyd as hul voel soos hul voel en nie weet hoekom hul voel wat hul voel nie. Ons grotte het net een ingang, so niemand kan daarin verdwaal nie.