Lonely. No fun – With wings

My standaard koffie-bestelling is altyd dieselfde: ’n decaf Americano, sonder melk. Dis eenvoudig. Duidelik. Of so het ek gedink.

Die eerste keer wat ek dit by Seattle bestel, roep die vroutjie agter die toonbank vrolik: “One tall, lonely, no fun!” Ek het vir ’n oomblik regtig gedink sy beskryf vir my! Ek is darem lank, ja, maar lonely én no fun? Dis bietjie rof vir ’n kliënt, né?

Toe besef ek dis bloot die kodenaam vir my koffie. Tall (groot), lonely (sonder melk), no fun (decaf). Tragies, maar waar. Ek verkies dit só — ek wil die koffie proe, nie die melk of suiker nie. En die decaf is ter wille van almal rondom my, want te veel kafeïen en ek raak ’n klein tornado.

Ek het intussen begin om self my bestelling so op te sê, met trots nogal. Ek voeg gewoonlik by: “Ek is darem self fun genoeg, en ek het genoeg liefdevolle mense om my — ek own hierdie koffie!” Ek gooi dan altyd ’n bietjie kaneel by, sodat my arme koffietjie nie heeltemal so lonely en no fun voel nie.

Maar toe gebeur daar iets besonders. Vanoggend roep die dame agter die toonbank: “Tall, lonely, no fun… with wings!” Ek lag hardop — dit verwys natuurlik na die feit dat ek ’n takeaway bestel het. Maar daardie with wings het my diep getref. Juis omdat ek nie op hierdie stadium voel of ek vlieg nie, eerder asof ek nie eens my vlerke behoorlik opgetel kry nie.

My gedagtes het onmiddellik teruggegaan na die teks wat ek die oggend gelees het: die verhaal van Hagar in Genesis 16. Hagar — die vrou wat alleen, verstoot en sonder vreugde in die woestyn beland. Tall, lonely, no fun, kan ’n mens amper sê.

En tog, daar in haar desperate plek, verskyn ’n Engel van die Here en vra haar:

“Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” (Genesis 16:8)

Ek wonder of die Engel dit ook só kon vra het:

“Hagar, waarvoor gebruik jy die vlerke wat ek vir jou gegee het?”

Hoeveel keer bevind ons onsself nie ook in daardie woestyn nie — uitgeput, hartseer, verward? Soms oor trauma. Soms omdat ons onsself vergelyk met ander. Soms net oor die lewe se tempo. Voor ons ons kom kry, is ons vasgevang tussen sand en stilte, en ons vergeet… ons het vlerke. Nie om mee weg te vlug nie, maar om met moed vorentoe te beweeg.

Soos Paulus skryf in 2 Korintiërs 12:9:

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Hoor jy dit? Nie net dán is God se krag by jou nie — dis juis dán dat dit in volle werking kom.

Richard Rohr sê in Falling Upward:

“The way up is the way down.”

Om te val, om onder te wees — dis deel van groei. Dis hoe ons leer vlieg. Maar ons wíl nie val nie. Ons vermy pyn. As kinders val ons gereeld — en staan net so vinnig op. Maar as grootmens is ons bang vir die val, want ons het geleer om op ons voete te bly, ten alle koste.

Ons dra daardie houding oor na ons geloof en ons lewens. Ons dink sukses is net vir dié wat nooit struikel nie. Maar dis nie hoe God werk nie. Rohr praat van “necessary suffering” — seer wat ingebou is in elke mens se lewensreis. Ons hoop dis nie waar nie, maar as jy regtig om jou kyk, besef jy gou: “perfek” is ’n illusie.

Rohr stel dit só:

“If there is such a thing as human perfection, it seems to emerge precisely from how we handle the imperfection that is everywhere, especially our own. What a clever place for God to hide holiness, so that only the humble and earnest will find it! A ‘perfect’ person ends up being one who can consciously forgive and include imperfection rather than one who thinks he or she is totally above and beyond imperfection.”

Dis nie lekker om op ’n plek te wees waar lonely en no fun jou metgeselle is nie. Maar onthou altyd: dis with wings. Selfs al voel jou vlerke moeg, of gebrand, of gebreek van ’n val — hulle is daar. En die krag om te vlieg lê nie in jóú nie.

So as jy vandag voel soos my koffie — swart en bitter — onthou dat God juis in daardie plek vir jou krag gee. Moenie vergeet dat Hy vir Hagar gesien het nie. In haar donkerste woestyn het Hy haar geroep.

Daar’s ’n lied van Bethel Music en We The Kingdom, The Light in You, wat dit so mooi vasvang — asof God self dit vir jou sing:

“There’s something deep inside your eyes,
All the drama, all the pain.
You’ve been walking through the midnight,
And you lost your way.

You’ve been looking for a true friend,
Someone who understands.
When you need someone to listen,
Here I am.

I can see the light in you,
Even when it’s dark to you.
Spread your wings like butterflies,
You were made to shine.”

En dis my hoop vir jou en vir my: Mag ons weet — ons is gemaak om te vlieg. En om te skyn. Maar die vlieg kom ná die val. Die lig ná die donker. En juis dáár, in die sand van ons woestyn, is waar God ons opgetel het. Gedra het. In die oë gekyk het.


Lees soortgelyk

Bak en Rou: Die genade om te lag terwyl jy huil

Ek voel hoe twee wêrelde bots – een vol verjaarsdagvreugde vir ‘n 8-jarige, die ander vol onbeskryflike pyn oor ‘n 4-jarige.

DeurNadia MullerJun 24, 2025

Wees eerlik: is jy ook ‘n f*kop?

“Genade is dat die Here f*kops liefhet” – oom Dirk se wysheid bly my by. Mense wat hul gebrokenheid erken, skep ruimte vir ware…

DeurDJ MullerJun 23, 2025

Nuut: Van binne af buite toe

Christenskap gaan nie net oor karakter nie — dit gaan oor identiteit. Om aan Christus te behoort is ‘n radikale metamorfose wat ‘n nuwe…

DeurDJ MullerJun 8, 2025

’n R1-les in dankbaarheid

’n R1 mag vir jou niks beteken nie, maar vir ’n honger kind beteken dit ’n bord kos met smaak – en ’n droom…

DeurNadia MullerMay 16, 2025