Dit is vreemd hoe die woord “liefde” so maklik oor ons lippe gly – botter oor warm brood. Ons sê dit vir kinders voor slaaptyd, fluister dit vir geliefdes, of tik dit haastig aan die einde van ’n teksboodskap: “Lief vir jou.” Maar het ons al ooit mooi gedink oor hoe daardie liefde lyk? Watter lyf daardie liefde nodig het om werklik sigbaar te word?
Kerstyd word ons herinner dat liefde nooit ’n abstrakte konsep was nie. Dit was nooit bedoel om ’n gevoel in ons binneste of ’n mooi gedagte in ons koppe te bly nie. Toe God besluit het om sy liefde aan die wêreld te wys, het Hy dit nie van ver af gedoen nie. Nee, Hy het ’n lyf gebruik. “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Johannes 1:14).
Jesus moes hier wees. Hier op die aarde, onder ons, tussen ons gebrokenheid, ons verwarring, ons pyn. Want liefde wat nie aanraak nie, liefde wat nie opdroog, voed, dra en genees nie, is nie liefde nie. Dit is ’n idee, dalk selfs ’n mooi een, maar dis nie werklikheid nie.
Daar is ander dade wat jy kan doen sonder ’n lyf. Jy kan simpatie hê sonder om uit jou stoel op te staan. Jy kan barmhartigheid betoon sonder om ’n vinger te lig. Maar liefde – ware liefde – vra méér. Dit vra hande wat vuil raak, arms wat optel, oë wat huil saam met ’n ander. Dit vra jou lyf. “Gee julle liggame as ’n lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is” (Romeine 12:1).
Liefde moet eers sterf om heeltemal lewend te wees!
As ek na Jesus kyk – die Baba in die krip, die Man aan die kruis – dan sien ek dit oor en oor. Liefde loop. Liefde raak aan. Liefde breek brood. Liefde gee water vir ’n dors een. Ons, wat sê ons glo in hierdie Jesus, word geroep om dieselfde te doen. Ons word geroep om die liefde van God ’n liggaam te gee – nie noodwendig in groot, dramatiese gebare nie, maar in die eenvoudige dinge. Jy gee liefde ’n lyf wanneer jy langs ’n siek vriend gaan sit, wanneer jy brood by ’n buurvrou se deur los, wanneer jy stil luister na iemand wat seer het.
Liefde is nie maklik nie. Dit vra soms dat jy moeg word, jou planne opsy skuif, of jou hande oopmaak om te gee wat jy eintlik wou hou. Maar is dit nie presies wat ons by Jesus sien nie? Liefde wat moes sterf om heeltemal lewend te wees?
Jesus self het gesê: “Wat julle aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle aan My gedoen” (Matteus 25:40). Ons liggame word die plek waar Sy liefde gestalte kry, hier en nou, in die kleinste gebare van omgee en diensbaarheid.
En dalk is dit wat ons vanjaar moet hoor. Dat liefde nie net iets is wat ons voel nie, maar iets wat ons doen. Dat Kersfees nie net gaan oor mooi kersliggies en geskenke nie, maar oor hoe ons lig en lewe bring aan ’n wêreld wat dit só nodig het. Die liefde soek ook jóú lyf!