Wanneer ek voor God staan en vra: “Here, A of B?”, dan is die antwoord eenvoudig indien A iets soos appels is en B iets soos bomme. Die keuse is voor die hand liggend – natuurlik appels! Ek en God is immers nie pro geweld nie. Al lees ons soms van geweldadigedinge in die Ou Testament, is God in sy wese liefde.
Maar wanneer die keuse appels of braambessies is, is dit nie meer so eenvoudig nie. Vir die appels klim ek in my kar en ry winkel toe. Dis vinnig en gerieflik. Vir die braambessies trek ek my tekkies aan en stap teen die berg op om self te gaan pluk. Om eerlik te wees, die tweede opsie is gewoonlik vir my die beter een. Ek is mal oor die berg, en ek sal enige dag eerder vars braambessies eet as ’n appel. Maar as dit baie reën, is dit ’n ander storie, dan is die bergpad ’n modderbad en dalk kies ek dan maar tog vir die winkel se appels.
Nou wonder jy dalk: wat het appels en braambessies met geloofsonderskeiding uit te waai? Miskien niks, maar vir my illustreer dit iets belangriks.
Baie van die keuses wat ons in die lewe moet maak, is nie eenvoudig tussen goed en sleg nie, dis nie altyd ’n stryd tussen appels en bomme nie. Dikwels is dit keuses tussen goed en beter. Dan draai ons vas. Ons staan voor God met ’n keuse in die hand en wag vir ’n stem uit die hemel of ’n vers in die Bybel wat sê: “Kies dié een.”
Hoe maklik sou die lewe nie gewees het as God só gewerk het nie! Maar die waarheid is: God gee nie altyd antwoorde in hoofletters nie. Hy is nie noodwendig so besorg oor of jy in Kaapstad of Johannesburg bly, of jy in jou huidige werk bly of aansoek doen vir iets anders nie. Wat vir Hom saak maak is jy, jou hart, jou lewe, jou verhouding met Hom.
Hoekom bid ons dan oor sulke keuses as Hy tog tevrede sou wees met albei? Want ons is sy kinders. Hy wíl deel wees van ons lewens, ons drome, ons vrae. Hy gaan jou nie in ’n rigting indwing nie, maar Hy wil saam met jou op pad wees. Sy droom vir jou is goed en mooi, ja, maar die wêreld is stukkend — selfs die beste keuse gaan nie altyd maklik of mooi wees nie.
Ek het besef: geloofsonderskeiding gaan nie net oor krisistye waarin ons desperaat aan God se deur klop en op bevestiging aandring nie.
Geloofsonderskeiding is:
Om appels te kies, en vir God te nooi om saam winkel toe te ry. Om Hom te nooi om saam met my die kassier vriendelik te groet, saam die karwag in die oë te kyk en sy menswees raak te sien. Om saam met Hom die appels te betaal, dalk selfs ’n ekstra brood te koop vir iemand langs die pad.
Of om braambessies te kies, en saam met God teen die berg uit te stap, saam oor die uitsig verstom te staan, saam die vars bessies te pluk en die soet-suur daarvan te geniet.
Geloofsonderskeiding is nie om antwoorde van God af te verwag nie. Dis om te besef: Hy is altyd die antwoord, omdat Hy altyd dáár is.
Dus is die vraag by geloofsonderskeiding nie wat God vir my kan doen of gee nie, maar wat ek vir Hom kan doen en gee.
Uiteindelik is die enigste ding wat ons vir Hom kan gee, onsself.
Richard Rohr sê in sy boek The Universal Christ dat God se liefde ’n selfgiving love is, liefde wat gee. Dis die liefde wat God vir ons het, en die liefde wat ons vir Hom moet hê: liefde wat gee, selfs as dit moeilik is. Liefde wat gee, al is jy kwaad. Liefde wat jouself gee, soos die 72 wat uitgestuur is na onbekende plekke, en vertel wie God is, met vertroue dat Hy sal sorg, of jy aanvaar of verwerp word.
Soos ek hier skryf, besef ek hoe waar dit is wat ek sê. Maar ek weet ook: wanneer die volgende moeilike besluit opduik, gaan ek waarskynlik weer wag vir daardie stem of vers. Ek gaan weer wens God kies namens my, maar ten minste, soos ek hier sit, weet ek God is hier. Dis genoeg.
Vir my is dít geloofsonderskeiding.





























