Netbal. ’n Sport wat tans hoog op almal se lys is, veral met die wêreldkampioenskappe wat onlangs op almal se lippe was. Maar hoeveel van ons dink daaraan dat die Bybel ook baie te sê het oor kompetisie, oor wedlope, en uiteindelik oor oorwinning? Kom ons kyk bietjie na die parallelle tussen die netbalbaan en ons geloofsreis, waar elke doelwit en elke poging tel.
Wat kan ons van netbal leer?
Net soos in ’n netbalwedstryd, waar net een span die kroon as kampioen kry, herinner Paulus ons in 1 Korintiërs 9:24 dat in die wedloop van die lewe, ons moet hardloop om te wen:
“Julle weet dat al hardloop ‘n klomp mense in ‘n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen.”
Dit beteken nie dat ons mekaar moet uitoorlê of selfs mekaar moet oortref nie, maar eerder dat ons ons lewens moet leef met ’n doelgerigte intensiteit en vasberadenheid.
Om ‘n doel in netbal te gooi, is nie toevallig nie. Dit verg fokus. Jy moet jou oë op die net hou en presies mik waarheen jy wil gooi. In ons geloofslewe is ons doel om meer en meer soos Jesus te word – om soos Hy lief te hê en op Hom te vertrou, soos Hebreërs 12:2 ons aanmoedig:
“Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en die vernedering van die kruis was nie vir hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel.”
Maar hoe dikwels dwaal ons oë nie af na dinge wat ons aandag van Jesus af wegneem nie? Ons fokus op skool, werk, klere, geld, speletjies – en vergeet die grootste prys van almal.
In lyn met die doel
Net soos ‘n netbalspeler haar lyf in lyn moet bring met die doelpaal om akkuraat te skiet, moet ons lewens in lyn wees met God se wil. Ons kan nie Christus volg terwyl ons ons eie dinge doen en sondig leef nie. Hebreërs 12:1 moedig ons aan om elke las en sonde af te gooi, sodat ons die wedloop van die lewe kan hardloop sonder struikelblokke:
“Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop.”
Ons moet onsself gereed maak, los van alles wat ons verstrik, en met ‘n skoon hart en verstand die pad van geloof stap.
Opvolg en volharding
Laastens, ‘n goeie doel in netbal vereis opvolg – jy volg die bal, vang die rebound en probeer weer as jy mis. So ook in ons geloofslewe. Dit gaan nie altyd maklik wees nie; ons gaan foute maak. Maar dit is belangrik om nie op te hou probeer nie. Die lewe is vol uitdagings, maar ons word geroep om volhardend die wedloop te hardloop, om op God te fokus en ons geloof te leef met toewyding.
Die wêreld kyk hoe ons leef. Ons daaglikse lewe moet ander inspireer om te vra: “Wat is dit wat jou anders maak? Wat is dit wat jou laat uitstaan?” Laat ons daardie tipe geloofslewe leef wat “respek” afdwing, wat mense laat verlang na die liefde, vrede, en vreugde wat ons in Christus het.
Soos in netbal, moet ons mik na die doel, ons lewens in lyn bring met Christus, en nooit ophou om die bal te volg nie – selfs al mis ons soms. Want elke poging, elke volgehoue inspanning, bring ons nader aan die grootste prys van alles: ‘n lewe voluit vir God.