Casualties van ’n Cappuccino

Ek staan voor in die ry by ’n koffiewinkel en vermy oogkontak met die vrou wat pas voor my bestel het. Sy staan laer af teen die toonbank en wag vir haar koffie – of meer spesifiek, twee cappuccino’s met room, waaroor sy nou so passievol baklei het omdat sy ’n ekstra R10 moes betaal vir die room. Uit die hoek van my oog sien ek hoe sy kort-kort na my kant toe loer, in die hoop om iemand te kry wat saam met haar sal staan vir die onreg van “added costs.”

Die arme vrou wat die koffie moet maak, probeer vriendelik verduidelik: ’n cappuccino kom standaard met melk; as jy room wil hê, kos dit ekstra. Maar vir luister en verstaan is daar geen sprake nie. So ek bestel toe maar ’n “no fun decaf Americano, no milk.”

Ek lees onlangs ’n rubriek van Cas Wepener, waar hy sê: “Die subteks van ’n protesterende plakkaat wat lui ‘Staan vir iets’ is dikwels ‘Staan op iemand’.” Dit is presies die probleem met die vrou en die room. Die probleem is nie dat sy haar uitgespreek het oor die ekstra R10 nie, maar dat sy in die proses ’n ander mens so sleg behandel het – as’t ware op haar getrap het om haar punt oor te dra. Ek het weggestap met ’n bitter smaak in my mond wat niks met my bitter koffie te doen gehad het nie.

Ek sukkel al ’n geruime tyd met mense wat aktivisties raak oor sake. Ek sien myself as iemand wat ander in ag wil neem, hul stories wil hoor en probeer verstaan waar hulle vandaan kom. Maar dikwels, as iemand ’n aktivis is en my probeer oortuig van hul standpunt, ten koste van ander mense, sny ek af en wil ek nie verder na hul saak luister nie. So dalk is ek ’n aktivis teen aktiviste

Hoekom? Ek het lank gewonder. Nou weet ek. Dit is nie vir almal waar nie, maar meeste mense wat só sterk oor ’n saak voel, sal baie dikwels ten koste van ander mense vir daardie saak staan. “Casualties” – dis maar wat dit kos om vir iets te staan, sal mense dikwels redeneer.

Ek wonder net: Is dit R10 werd om iemand te laat voel hulle is skelm en kan nie hul werk ordentlik doen nie?

Jesus het nie eers aan die kruis “casualties” gehad nie – en wat Hy gedoen het, was die grootste “Staan vir iets” wat die wêreld al ooit gesien het. Ons leer by Hom die waardevolste les:

“Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” – Lukas 23:34

Ek sê nie ons moet oordeel en beweer ander weet nie wat hulle doen nie. Maar Jesus kon maklik daar op die kruis baklei het, sy saak gestel het, mense probeer oorreed het. Hy het nie. Dalk was dit ’n tipe stil betoging van sy kant af, maar ek dink eerder dit is gebore uit ’n plek van liefde – liefde vir alle mense, selfs die wat jou aan ’n kruis vasspyker.

Jesus sou nooit ten koste van ander mense ’n punt probeer bewys het nie.

Hy het vir baie dinge sterk gestaan, maar nooit ten koste van liefde nie.

Ons moet opstaan vir reg en geregtigheid, maar nie as dit beteken ons trap op ander nie. Om ’n suksesvolle aktivis te wees, beteken jy het al die kante van die saak in ag geneem. Jy het die mense wat teenoor jou staan probeer verstaan en steeds besluit jou standpunt dra meer gewig. En dan staan jy jou man/vrou sonder om mense as vyande uit te maak.

Dit is okay om op te staan vir die onreg van ’n ekstra R10.

Maar dit is nie okay as jy in die proses die persoon vertrap wat jou koffie moet maak nie.

Rebelleer dan eerder deur jou bestelling te kanselleer en met die bestuur van die koffiewinkel te praat – eerder as om die vrou wat net haar werk doen in jou visier te sit.

Staan dus op vir jou reg om nie R10 ekstra te betaal nie, maar nie voordat jy opgestaan het vir Jesus se tipe liefde nie.