Om ‘n pa te wees

om ’n pa te wees

is om te gee al sien ek die bodem van dit waaruit ek skep

en om terug te hou sodat ek dit later agter my rug kan wegsteek

en kan sê: “kies – links of regs!”

dit is om “ja” te sê al wil my arms haar styf in ’n veilige nee vasdruk

maar ook om “nee” te sê want ja is minder reg

om ’n pa te wees

is om leeus te jaag en jou lyf so groot soos ’n olifant te hou

terwyl jy skelm binne in jouself soos ’n kuiken skrop

dit is om wys te wees nog voordat jy genoeg verstaan en weet

om skelm met ensiklopedieë vriendskapsbande te smee

om ’n pa te wees

verg moed en krag

maar tog word dit sag

wanneer sy net ’n bietjie harder druk

langer vashou

harder lag

en dieper asem haal

as ek by haar is


Lees soortgelyk

U welkom matjie

ons het al talle kere lekker saam aan U tafel geëet terwyl die bure buite raas hier was dit nog altyd stil en salig…

DeurDJ MullerNov 21, 2024