Preekskryf is nie koekbak nie

Mense vra gereeld: “Hoe skryf jy ‘n preek?” of “Hoe lank vat dit?” Ek wens ek het ‘n one-liner antwoord gehad. Ons is twee dominees in een huis, en ons maniere van preekskryf verskil hemelsbreed. Ek skryf myne met die hand in ‘n boek, terwyl DJ net ‘n paar hoofpunte op ‘n iPad of iets het.

Ek is baie lief vir bak en hou dus daarvan om van ‘n resep af te werk. Dit is eenvoudig: jy het sekere bestanddele nodig, sekere metodes word gebruik, en as jy die resep presies volg, behoort jou sjokoladekoek elke keer reg uit te kom. Preekwerk is egter nie soos koek bak nie, en daar is nie ’n maklike resep wat elke keer vir elke teks of geleentheid werk nie. Ja, daar is sekere elemente wat sekerlik vir meeste eredienste geld, maar ‘n vaste resep het ek vir seker nog nie gekry nie.

Sommige preke skryf makliker as ander – dalk omdat die inhoud, teks of tema meer geleef in my eie lewe is. As ek tyd gehad het om met verskillende mense oor dit te gesels, help dit ook gewoonlik om verskillende perspektiewe te kry oor ‘n tema of teks. Soms begin dit by ‘n tema, ander kere by ‘n teks, en tussendeur is daar baie gebed en gesprekke met God oor die “wat” en “hoe”. Ure word dae en dikwels weke van dink, gesels, lees en bid voordat die preek, met alle erediens-elemente, finaal in my boek geskryf word.

Dit gebeur dat party preke my opgewonde maak, ander minder opwindend is. Soms voel ek gemaklik oor wat ek geskryf het, en ander kere nie. Ek is egter elke keer voor ‘n preek op my senuwees – my maag draai, ek voel naar, en my hande bewe – partykeer meer as ander. Dis seker maar die introvert in my wat steeds nie heeltemal gemaklik is voor ‘n klomp mense nie.

Maar dan is daar preke wat my op ‘n Saterdagaand laat wakker lê. Ek het vroeër die week die preek klaar geskryf, maar om een of ander rede voel dit net nie reg nie. My man is my grootste ondersteuner en kritikus. Hy het eenkeer lank terug vir my gesê: “Dit het nie geklink asof die preek deur jou hart is nie.” Ek het sy woorde ter harte geneem en met God gepraat en gesê Hy moet my help om altyd eerlik, opreg en getrou te wees in al my preke.

So lê ek Saterdagaand wakker en wonder: Moet ek nie dalk eerder ‘n ander preek skryf nie? Ek het nog so 10 ure voor ek by die kerk moet wees. Ek bid en vra die Here wat ek moet doen. Tussen die kinders en honde raak ek toe aan die slaap – sonder ‘n nuwe preek. Baie vroeg Sondagoggend word ek wakker, en steeds voel ek nie gerus nie. Ek staan toe op, gesels met die Here en vra Hom: Wat nou? Ek vat toe ‘n oomblik en lees die Psalm, soos deur Barend Vos verwerk in Die Ewigheid in my Hart, vir die dag. Dit eindig met die woorde:

“Nogmaals, Here:

Hier is ek – bewerig, maar bereid

om te skyn soos U my rig,

en te praat waar U my plaas.”

Net daar besef ek weer: Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan nie daaroor dat ék goed of selfversekerd moet voel oor ‘n preek nie. Dit gaan oor God en wat Hý wil sê. Hy weet wie in die erediens gaan wees. Hy weet wie het nodig om wát te hoor, en Hy weet juis in my oomblikke van onsekerheid en swakheid werk Hy die sterkste deur my. Soos Paulus in 2 Korintiërs 12:9-10 skryf:

“Maar Hy het vir my gesê: ‘My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.’ Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.”

Ek probeer so hard om die beste preek te skryf, een met die meeste trefkrag, ‘n preek waaroor mense sal praat, ‘n preek wat mense sal beweeg. Maar eintlik is die enigste wat ek moet doen om, bewerig, te skyn waar God my rig en te praat waar Hy my plaas – want dit gaan nie oor my nie. Ek dink ek vergeet dit soms. Ek hoef nie die perfekte koek te bak nie; daar is nie ‘n resep om te volg nie. Wat wel nodig is, is vertroue – vertroue in Hom wat baie beter weet as ek.

Hierdie week se preekskryf was vir my ‘n lewensles, want wat ek by God geleer het, is meer as net vir ‘n Sondagoggend bedoel.


Lees soortgelyk

Wat netbal ons oor geloof leer

’n Netbalwedstryd as metafoor vir geloof: Fokus op Jesus, staan in lyn met jou doel, en volg op met volharding in die wedloop van…

DeurDJ MullerSep 1, 2024