Daar is ‘n kort woord wat diep sny: Eina. Dit is die spontaanste reaksie op seer – ‘n woord wat ons sê sonder om daaroor te dink. ‘n Groot teleurstelling? Eina. Die woede van verraad? Eina. Die stil seer van ‘n selfbeeld wat al vir jare brokkel? Eina. Die rou smart van verlies? Eina.
Pyn kom in verskillende vorme. Party wonde is sigbaar, ander lê diep binne-in en skree in stilte. Maar as daar een waarheid is wat ons dikwels vergeet, is dit dít: Jesus ken ons pyn.
Nie net omdat Hy God is nie, maar omdat Hy dit self ervaar het. Hy ken die pyn van teleurstelling toe Sy eie mense Hom verwerp het. Hy ken woede – nie ‘n vernietigende, selfgesentreerde woede nie, maar ‘n heilige woede oor onreg en liefdeloosheid. Hy ken die seer van verwerping, van ‘n vriend wat met ‘n soen verraai en ‘n ander een wat Hom verloën. Hy ken verlies – Hy het gehuil by ‘n graf. Hy ken siekte en liggaamlike gebrokenheid – nie omdat Hy self siek was nie, maar omdat Hy ‘n liggaam gedra het wat geslaan, deurboor en gebreek is. Hy ken emosionele seerkry – onthou Getsemane. En Hy ken vrees – ‘n vrees wat Hom laat sweet het soos bloeddruppels, en wat Hom tog nie laat vlug het nie.
Jesus is nie ‘n afsydige, veraf God wat van ‘n afstand toekyk terwyl ons ly nie. Hy is ‘n God met littekens. En juis daardie wonde is die rede waarom ons ons eie wonde na Hom toe kan bring.
Dit is waaroor Eina, ‘n Lydenstyd Bybelstudie, gaan.
Hierdie reeks van sewe Bybelstudies is ‘n reis deur die lydensverhaal van Jesus – maar ook ‘n reis deur jóú pyn. Dit help jou om jou eie teleurstellings, woede, selfbeeld, verlies, siekte, emosionele seerkry en vrees teen die agtergrond van Jesus se lyding te lees. Dit is nie ‘n vinnige oplossing vir jou pyn nie. Dit is ‘n uitnodiging om Jesus in jou pyn raak te sien en om te ontdek dat Hy nie net met jou simpatiseer nie, maar binne-in jou seer teenwoordig is.
Lydenstyd is ‘n tyd van refleksie, van stilword, van weer kyk na die kruis en alles wat dit beteken. Maar dit is ook ‘n tyd van hoop. Die kruis was nie die laaste woord nie. Die pyn van Vrydag word omvou deur die lig van Sondag.
Hierdie reis mag jou konfronteer. Dit mag jou herinner aan wonde wat nog nie genees is nie. Maar dit mag jou ook verras – deur ‘n Jesus te wys wat nie net jou pyn verstaan nie, maar wat dit met jou dra en jou in die rigting van genesing nooi.
Jy hoef nie jou “eina” alleen te dra nie. Laai die Bybelstudie af en stap hierdie reis saam met Jesus.