meer oor ons

DJ en Nadia het twee dogtertjies, Lylah en Emily. Hulle woon tussen die Paarl en Franschhoek en is beide in die bediening in die NG Kerk.

DJ


DJ Muller dien saam met sy vrou, Nadia, as leraar by Simondium Familiekerk, waar sy hooffokus op pastoraat, gemeentebestuur en musiekbediening lê. Buiten sy bediening in die kerk, werk DJ voltyds by die Sinode van Wes-Kaapland as ’n vervaardiger. Hy het grootgeword in Cradock en het aanvanklik Jazz studeer by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria, maar in 2008 het hy sy roeping gevolg en teologie begin studeer aan die Universiteit van Pretoria. Hy het sy Meestersgraad in Teologie voltooi met ’n fokus op praktiese teologie.

DJ het ’n natuurlike aanleg vir pastoraat en is ’n kreatiewe gees wat sy talente wyd benut. Hy is betrokke as vrywilliger by MCM, ’n niewinsgewende organisasie in Paarl-Oos, waar hy dien as pastorale- en mediabestuurder. Sy kreatiewe kant kom verder tot uiting as ’n professionele fotograaf en musikant. Reeds van sy skooldae af, toe hy sendingwerk in Mosambiek gedoen het, het hy bewus geraak van sy roeping tot die bediening, veral buite die tradisionele kerkmure. Hierdie roeping is in 2018 bevestig tydens ’n ontmoeting met ’n geheime groep Christene in Bangladesh.

DJ se betrokkenheid strek verder as sy rol in die kerk en MCM. Hy dien op die raad van die Bloemendal Clinic, ’n psigiatriese hospitaal, en is die ondervoorsitter van die Groot Drakenstein AfriForum Gemeenskapsveiligheid groep. Bo en behalwe sy passie vir fotografie, is DJ ook ’n vlieënier, en hy put groot vreugde uit hierdie avontuur.

Nadia


Nadia Muller is sedert 2020 die gemeente leraar by Simondium Familiekerk, geleë in die pragtige Paarl Vallei. Sy het haar kinderjare in Amanzimtoti deurgebring en het haar roeping tot die bediening by die Universiteit van Pretoria nagejaag, waar sy ’n Honeursgraad in Antieke Tale en ’n Meestersgraad in Teologie behaal het. Haar jare as student leraar by NG Pretoria Dowes het haar passie vir bediening aan dowes diep gevestig. Hierdie toewyding aan mense en haar begeerte om hulle te begelei na ’n dieper, opregte verhouding met God, is deurslaggewend in haar bediening.

Nadia is ook besig met opleiding om ’n Spiritual Director te word en speel ’n aktiewe rol in die begeleiding van predikante as deel van die Sinode van Wes-Kaapland. Haar bediening is nie net beperk tot haar kerk nie; sy bedien kinders deur weeklikse geloofsgroeisessies, “Milkshake,” en is betrokke by gemeenskapsprojekte soos ’n kinderhuis in Wellington en ’n plakkerskamp in Simondium. Verder bied sy bykans weekliks kapeldienste aan by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit.

Persoonlik het Nadia diepgaande veranderinge ondergaan nadat haar ma skielik in 2016 oorlede is. Hierdie verlies het haar manier van dink, glo, en doen ingrypend verander. Sy is ’n eenvoudige, opregte en kontemplatiewe mens wat alle mense bo haarself stel, en vir wie diensbaarheid en dissipelskap kernwaardes is. Buiten haar geestelike werk, is Nadia ook ’n ywerige maraton atleet, netbalspeler, afrigter en skeidsregter. Sy vind haar krag in stilte saam met God.


Om ’n dominee te wees, is om ’n dissipel te wees in die reis van geloof – om die lig van God se liefde te skyn op die kronkelpaaie van mense se lewens, saam met hulle te stap deur die diepste dale en saam met hulle die hoogste berge te klim.

DJ Muller

Hi daar! 👋
Lekker om jou te ontmoet.

Teken hier in om 1 keer 'n maand 'n epos te ontvang met die maand se nuutste stories, struggles, klaagliedere en lofpsalms...