Ons leef in ’n wêreld wat nooit regtig ophou nie. Daar’s altyd nóg iets om te doen, nóg ’n e-pos om te antwoord, nóg ’n WhatsApp om te lees. En as ons eerlik is, is ons trots daarop hoe besig ons is. Dit laat ons belangrik voel. Maar diep binne-in ons weet ons: ons kan nie so aanhou nie.
Die Sabbat is God se manier om vir ons te sê: jy hoef nie. Jy hoef nie altyd aan die gang te wees nie. Jy hoef nie jou waarde te bewys deur jou werk of jou prestasies nie. Jy mag rus. Jy mag asemhaal. Jy mag jou hande van die stuurwiel afhaal en onthou dat dit nie alles van jou afhang nie.
Hierdie Bybelstudieboekie is ’n uitnodiging om dit te herontdek. Ons het gaan delf in die Skrif, geluister na wyse stemme soos John Mark Comer, en self probeer leef met meer ritme, meer ruimte vir rus. Ons het gevind dat die Sabbat nie net ’n reël is om te volg nie, maar ’n geskenk om te ontvang.
Ons nooi jou uit om saam met ons te reis. Om te leer stop, rus, geniet en aanbid. Om te ontdek hoe om nie net op een dag per week nie, maar oor jou hele lewe anders te leef. Mag hierdie bladsye vir jou ’n bietjie asem wees in ’n gejaagde wêreld.
Hoe werk dit?
• Bo-aan elke sessie se bladsy is daar ’n QR-kode.
• Gebruik jou foon se kamera om die QR-kode te scan – dit sal jou direk na die betrokke podcast neem.
• Indien jy hierdie boekie digitaal op jou foon gebruik, druk op die “deel 1” ens. opskrif om na die podcast te gaan.
• Luister na die podcast voordat jy met die sessie begin. Dit skep die nodige konteks vir die vrae wat daarna volg.
Hoe om dit te doen?
• Jy kan hierdie studie alleen doen of saam met ’n groep.
• Neem tyd om die vrae deur te dink en te bespreek.
Hierdie boekie is nie ’n lys take om af te merk nie – dit is ’n uitnodiging. ’n Kans om te ontdek hoe jy die Sabbat as ’n ritme van genade in jou lewe kan vestig.